3 maande gelede
Son en Corona
coronavirus,covid19
#CoronaVirusInSA  ~ 

Liewe Sonlander,

Van Vrydag 27 Maart gaan alle Suid-Afrikaners ongekende territory binne. 

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag 23 Maart ’n lockdown vir 21 dae afgekondig om die impak van die corona-virus te verminder. Dit begin Donderdag 26 Maart om 23:59 en duur tot middernag 16 April. Teen Donderdag 26 Maart 2020 om 08:00 het Covid-19 reeds meer as 21?000 lewens wêreldwyd geëis.

Hoewel niemand teen Woensdag 25 Maart in Suid-Afrika gesterf het weens die siekte nie, is daar reeds meer as 700 mense infected. 

Ramaphosa vra dat alle Suid-Afrikaners hulle samewerking gee gedurende dié lockdown. Ons by Son vra ook al ons lesers, jul familie en vriende om gehoor te gee aan die lockdown-maatreëls. Onthou, dis vir die beswil van almal in die land dat ons saamwerk in hierdie swaar tyd. 

Jou gunsteling-koerant bring al sedert die uitbreking van die virus daagliks stories uit ons gemeenskappe, nasionaal en die res van die wêreld. 

In dié lockdown gaan ons vreeslose joernaliste en fotograwe voort om berigte oor die virus en ander stories aan jou te bring. 

Dis ons werk om te sorg dat die vloei van inligting nie ook tot stilstand kom nie, want by Son weet ons kritieke inligting kan in sekere gevalle die verskil tussen lewe en dood beteken. Maar, liewe leser, jy sal verstaan Son is nie immuun teen Covid-19 nie. 

Van Vrydag 27 Maart 2020 en vir die res van die lockdown sal jou gunsteling-koerant net by sommige van sy gewone verkooppunte beskikbaar wees. Dit is as gevolg van beperkings op die druk en aflewering van koerante.

So, as jy dit nie by jou gewone plek sien nie, kry dit gerus as jy jou shopping by die supermark doen. Die president het mos gesê jy kan steeds kos gaan koop. 

Wees gerus: Son se joernaliste werk steeds hard om die koerant te vul met lekkerlees-stories. En onthou ons website, son.co.za, vir toegang tot van ons beste stories. 

Bly veilig en gesond gedurende dié tydperk.

Neil Scott

Redakteur

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters