3 maande gelede
My vrou is nie meer lus vir ‘Langebaan’
 ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS Pappa G van die A. Ek en my vrou is nou al 10 jaar getroud.

Sy is 15 jaar ouer as ek en ek kom kry nou ons vind nie meer mekaar in die bed nie.

Ons verskil baie wat ons bedsake betref.

Sy sal nooit aanklop vir trippies Langebaan toe nie, as Antie weet wat ek bedoel.

As ek in Langebaan wil wees, dan bly sy moeg.

Sy werk van 8 tot 5 en ek werk skofte in ’n fabriek. Ek het al met Mamma G hieroor gepraat, maar hoor is min.

Sy sal elke aand Langebaan toe gaan saam met my, maar daar is niks gevoel nie. Niks lekkerte in hierdie trippie nie.

Ek voel dit doen afbreuk aan ons huwelik, want ek voel nie meer soos ’n man nie. My vrou is dan nie meer lus vir my nie.

Moet ek bekommerd wees? Vat sy dalk die langpad met ’n ander man? Ek en my mannetjie is lus vir langpad ry, maar ons word afgeskeep. – Pappa G, WhatsApp

Nee, Antie weet presies wat jy bedoel: Jy hou van Langebaan toe gaan.

Maar jou vrou is nie altyd ewe lus om “Go the Distance” saam met Michael Bolton te sing nie.

Daar is immers ’n afstand van 244 km tussen jou dorp en Langebaan. Twee uur en 55 minute se ry om presies te wees, en dis duidelik jou vrou is nie lus om so ver en so lank te ry nie.

Maar op ’n ernstige langpad-noot, Antie vermoed dat hormoon-veranderinge dalk besig is om ’n stokkie voor jou langpadryery te steek.

’n Mens se libido, die seksdrang wat jou tone kan laat krul, neem oor die jare af. By sommige gebeur dit baie vinniger as by ander.

Sommige het aan die ander kant eenvoudig net nooit ’n libido nie.

Daarvan het Antie oor die jare uitgevind van mense wat kla oor hulle sex partners wat dooier as ’n mossie net daar op die kooi lê.

Jou vrou is 15 jaar ouer as jy en hoewel jy nie sê presies hoe oud sy is nie, klink dit of sy anderkant haar peak is.

Stres, ’n geswoeg en gesweet by die werk, kinders en ’n familie wat ál haar aandag verg, kan ook ’n liederlike drol in jou Langebaan-drinkwater wees.

Ongelukkig en veels te dikwels is dit die sekslewe wat spat as daar ander dinge is wat ook aandag moet geniet. En dan begin seks soos ’n huistakie voel wat ook afgetick moet word, soos wat jy nou agtergekom het.

En natuurlik laat dit jou twyfel aan jou vermoëns as man en laat dit jou wonder of jou vrou nie dalk verveeld met jou is en jy nie meer die pyp by haar kan rook nie.

Al jou antwoorde lê in ’n openhartige gesprek met vroulief waarin julle nie verwyte rondslinger nie.

Dinge kan so maklik handuit ruk. Jy kan maklik hoor om dan maar vir jou ’n hoer te kry wat in een of ander straat met ’n droë waslappie staan.

Dit moet beslis vermy word dat julle gesprek tot by sulke dinge vorder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters