9 dae gelede
Vrou loop al dekades onder nare man deur
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my man kom al 36 jaar saam aan, waarvan ons 32 jaar getroud is.Ons het drie wonderlike kinders, maar van dag 1 af het my skoonmense geen geheim daarvan gemaak dat ek nie welkom in hulle familie is nie.

Maar as ek vir hulle kan gee, is ek goed in hulle oë.

Die cherry op die koek is dat my man sowaar alles van sy mense glo.

’n Saak het twee kante, maar hy sal nooit na my kant luister nie.

Dit ontaard altyd in een of ander abuse.

Hy het my op ’n keer lelik aangerand. Tot vandag toe weet ek nie hoekom nie, want om oor dinge te praat is eenvoudig taboe by hom.

Ek het dit maar al die jare verdra vir die kinders se onthalwe.

Antie, ek is nie perfek nie. Ek het baie dinge gedoen om my kinders happy te hou.

Seks

Ek sou byvoorbeeld ’n winkel nie betaal nie om in my kinders se behoeftes te voorsien. Dan laat my man dit lyk asof ek ’n misdaad gepleeg het.

Ons albei is al oor 55 jaar oud, maar dit is seks in die aand en seks in die oggend.

Ongeag ek siek of moeg is, ek moet sy behoeftes bevredig om die vrede te bewaar.

Daar het so ’n paar jaar gelede ’n storie die rondte gedoen dat ek hom verneuk, maar hy het toe self uitgevind daar het niks gebeur nie.

My man het ’n manier van praat met my. Hy is afjakkerig, so asof ek ’n los meid is.

Voor ander is hy die lieflikste mens. Tot my skok moes ek nou onlangs uitvind my man haat my oor die gerugte oor my. Dis nou die gerugte wat hy dan self uitgevind het nie waar is nie.

Nou, hoe kan hy dan nog seks met iemand wil hê wat hy haat en nie vertrou nie?

Is seks dan nie iets moois tussen twee mense wat mekaar liefhet nie?

Ek is nie iemand wat rondloop nie. Toe ek nog gewerk het, was dit net werk toe en huis toe.

Ek is ’n familiemens en kuier nie graag nie.

Ek rook nie en drink net by spesiale geleenthede.

Verder is ek soos kiepie by die huis.

Die huis is altyd skoon en die kos is op tyd klaar.

Ek is vreeslik lief vir my man, kinders en kleinkinders.

Hulle is my lewe, maar ek is nie gelukkig nie.

Ek glo nie aan skei nie, want ek sien nie kans vir meer komplikasies as wat ek al klaar in my lewe het nie.

Daar is al voorgestel dat ons ’n berader moet gaan sien, maar my man is nie beskikbaar daarvoor nie.

As hy nugter is, is hy die lieflikste mens, maar as hy dronk is, kom al die lelik in hom na vore.

Antie, gee vir my raad, asseblief.

Ek is al so moedeloos. – Kan Nie Meer Nie, Whats­App

Dit moet beslis nie lekker wees om reeds die afgelope 36 jaar ’n stryd te stry wat jy net nie kan wen nie.

Nagmerries sal daar altyd wees as daar gedeal moet word met skoonfamilie met wie jy nie om dieselfde tafel kan sit nie. Dis nou tensy hulle jou kan uitvreet.

Dis dan wanneer jy die support van jou man makeer.

Maar nou sit jy dan selfs in daai aspek met ’n verlies opgeskeep.

Jy het iemand wat jou afbreek, pleks van opbou.

Iemand wat jou net misbruik vir sy eie selfsugtige doelwitte en wat nie ’n duit omgee vir jou en jou feelings nie.

Iemand wat nie lief vir jou is nie, maar baie lief daarvoor is om jou fisiek en emosioneel tot sy eie advantage te misbruik.

In hierdie lewe kry jy givers and takers.

Die takers vat, vat en vat net, en gee nie ’n damn om as daar nie ’n krummel in die broodblik vir jou oorbly nie.

Daar moet ’n tyd in jou lewe kom dat jy moet stilsit en dink oor waarheen jou lewe op pad is. En waar dit gaan eindig.

Kom ons wees realisties. Ons lewe nie meer sulke lange, lange jare soos die oudstes van ouds nie.

As jy lucky en blessed is, het jy op die meeste seker nog so ’n goeie 30 jaar oor om te lewe.

Wil jy in hierdie 30 jaar ook maar net jou man en sy familie se vloerlap wees?

Jy sê jy glo nie aan egskeidings nie. Maar glo jy ook dan nie dat jy die reg op geluk het nie?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters