Verlede maand
Vrou kry pak slae by haar joller-man
Auntie Mona
Antie Mona  ~ ~

Liewe Antie Mona

EK IS 46 jaar oud en is getroud met 3 kinders.

Ek en my man stry baie want hy is jaloers. Maar ek dink dis omdat hy homself nie trust nie.

Hy sal my altyd oor my verlede indoen, maar hy het self nie ’n mooi verlede nie.

As ons stry, sal hy altyd handgemeen raak. Hierdie houding van hom maak my koud teenoor hom.

Hy sal my altyd seermaak met ander vroue, maar ek vergewe hom elke keer.

Hy was nog laas jaar by ’n ander vrou terwyl ek in die werk was.

Hy het gestry en ek wou skei. Ai, wat staan my te doen?

Is dit verkeerd om gevoelens te hê vir iemand anders?

Ek voel soos ’n bandiet, want ek mag nêrens heen gaan nie. As ek wel iewers kan gaan, moet ek teen ’n sekere tyd terug wees. En as ek laat is, moet ek verduidelik.

Gee vir my raad, asseblief, Antie. – Raadop Vrou, WhatsApp

Vrou, hier is ’n twist in hierdie WhatsApp van jou – jy is verskriklik suinig met info.

Antie verstaan. Jy is getroud met ’n joller-man wat jou time and again verneuk.

Antie verstaan dat jy nie happy hieroor is nie. Wat ek nié verstaan nie, is dat jy nie lankal van die man ontslae geraak het nie. Jy bly klou aan ’n man wat g’n respek vir jou en julle huwelik het nie. ’n Man wat geskille met sy vuiste wil oplos en ’n man wat so paranoid is dat hy dink jy staan agter dieselfde jol-deur as hy.

Maar dis juis hier waar Antie hokaai wil roep: Dit lyk asof jou man, joller van formaat wat hy is, dalk ’n punt beet het, want jy sê dan self jy het gevoelens vir iemand anders.

Nou waar pas dít dan nou? En hoekom het jy nie meer van hierdie ander persoon ook genoem nie?

Daar is ’n paar sinne oor regte wat Antie graag vir jou wil noem.

Jy het die reg om happy te wees. Jou man het g’n reg om sy hande vir jou te lig nie. G’n blerrie reg nie.

Jy het die reg om te skei as jy nie gelukkig in hierdie huwelik is nie en dan is jy by regte om happiness te pursue.

Maar nié op die manier wat jou man dit doen en soveel seer vir jou bring nie.

As hy jou nie gelukkig maak nie, dan keer niks jou om van die ding te skei nie.

Jy en jou kinders het nie sy joller presence in julle lewe nodig om gelukkig te wees nie.

Maar sy wrong en die wrong waarmee jy blykbaar ook deurmekaar is, maak niks reg in hierdie situasie nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters