2 maande gelede
Vrou in knyp ná sy vervoer verloor
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET al voorheen geskryf, maar Antie het nie my brief gepubliseer nie.

Antie, ek is ’n enkelouer van drie kinders.

Ek het verlede jaar my vervoer verloor, want dit het gebreek.

Vir baie jare was dit my brood en botter. Ek moes toe vervoer huur om my werk vir die res van die jaar te doen.

So het ek begin agteruit boer. My skuld het begin ophoop.

Ek weet nou nie meer watter kant toe nie.

Ek moet elke dag vir my kinders kos loop soek.

Antie, ek soek al van die begin van die jaar af werk, maar kom nêrens reg nie.

Ek moet ook trek van hier waar ek bly en ek het geen heenkome nie.

Kan iemand daar buite my dalk help met werk? Of kan iemand wat dalk die Lotto gewen het, my help met ’n lening?

Ek sal dit terugbetaal sodra ek weer op my voete is. Ek moet weer vir my vervoer kan koop.

Ek weet rêrig nie meer watter kant toe nie en het al oral aangeklop vir hulp. – Gestresde Ma, WhatsApp

Ai, vrou, Antie voel jou stres en frustrasie. Dit is tawwe, tawwe tye en die slegte nuus is dat dinge vir ons almal net moeiliker gaan raak.

Ek kan maar net imagine hoe ’n stryd dit vir jou moet wees om vir jou drie kinders te sorg.

Dit kan nie maklik wees om in hulle honger gesiggies te staar en te weet dat jy nie daai magies kan vul nie.

Kom ons wees nou realisties. Niemand wat die Lotto gewen het, gaan jou help nie. Dié wat die meeste het, gee altyd die minste.

Tensy een van hulle nou natuurlik hierdie woorde lees en my (met alle graagte) verkeerd wil bewys.

Aanhou en vasbyt, ten spyte van hoe donker dinge om jou lyk, is die antwoord.

Hou aan soek vir werk, selfs al is dit aanvanklik iets wat nie veel betaal nie.

Oorweeg dit selfs om verniet by ’n plek te werk, net om ’n voet in die deur te kry.

As hulle sien hoe hardwerkend en doelgerig jy is, behoort hulle te voel om jou vir jou dienste te vergoed.

Ja, Antie weet, om op so ’n wyse te werk gaan nie aanvanklik kos op die tafel sit nie, maar jy need om jou benadering te verander, want jy sien dan jy kry nie op ’n ander way werk nie.

Jy het niks om te verloor nie – so ’n ander benadering kan net wel ’n voorheen geslote deur vir jou oopmaak. En wat van jou kerk? Het jy met die predikant gepraat?

En dan kyk ons maar wat die lesers sê. Dalk is hier iewers ’n samaritaan wat nog nie in kwarantyn is nie. Alle sterkte!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters