8 maande gelede
Verlowing gekanselleer na uitval met outjie se ma
 ~ 

Liewe Antie Mona

Ek en my girlfriend was sewe jaar bymekaar en sou onlangs verloof geraak het.

Almal was gelukkig daaroor – haar mense en myne.

Toe het sy en my ma ’n uitval en my meisie kanselleer ons beplande verlowing net so.

Sy sê toe vir my dis my toedoen, want ék het my ma aangesê om haar te bel en te sê ek is nog nie reg vir trou of ’n verlowing nie.

Antie, ek weet nie wat my ma vir haar gesê het nie.

Nou het sy my gelos en dit terwyl ek van niks weet nie.

Ek is seergemaak oor die hele besigheid.

Ek is lief vir haar en kan nie verstaan hoekom sy my net so gelos het nie.

Ons is albei in die dertig. Ek weet nie wat om te maak nie. Die ring is al gekoop. – via WhatsApp

Ek kan nie anders nie as om te wonder wat jou ma gedryf het om jou meisie met sulke nuus te bel.

Het jy dalk die kwessie met haar bespreek? Of is dit uit eie voorbarigheid dat sy gevoel het jy is nog nie reg vir ’n verlowing of troue nie?

Dít terwyl jy ’n uitgegroeide en volwasse man van in die dertig is?

So lief soos jy jou ma het, sal jy jou stempel moet afdruk oor wat jý wil hê.

En as jy en jou meisie dinge uitgesorteer kan kry, sal jy ’n streep moet trek hoe ver en tot waar familielede (aan albei kante) hul neus in jul sake kan druk.

Met inmenging van buite gaan daar altyd wrywing in ’n verhouding en huwelik wees.

Wys jou meisie jy wil háár hê en dat jy nie deel van die opinies is wat in jou naam rondgeslinger word nie.

Dis tyd dat jy jou man staan vir wat jy uit die lewe wil hê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters