25 dae gelede
Toe sy leuens opraak, is ékke skielik skuldig
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET met my vriendin se outjie, G, gevry en ek vermoed sy weet daarvan.

Antie, ek het nie bedoel om dit te doen nie; dit het net gebeur.

Die derde keer het ek vir hom gesê ons kan nie so kan aangaan nie, maar hy kan nie wegbly van my af nie.

Hy sê hy voel niks meer vir haar nie en dat hy net by haar is ter wille van sy kinders.

Maar ek voel al sleg en kom agter my vriendin kry ’n ander gesig wanneer sy my sien.

Ek wil dinge met G beëindig, maar sit ook met die probleem dat ek feelings vir hom het. Vriendin

Vriendin my stert!

’n Mens vry nie drie keer met die pa van jou vriendin se kinders en wil dan voorgee dat jy nie gemean het om dit te doen nie.

Dit werk mos nie so nie.

Daai “ek bly ter wille van die kinders” is sommer net ’n storie. Een waarvoor jy so maklik val.

Hy wil jou opklim. Dis al.

Hy was nooit van plan om haar te verlaat nie en hy gaan ook nie sy mind change nie, maar fool wat jy is, kan dit nie raaksien nie.

Wat julle aan sy meisie doen, is plein verkeerd. Jy was veronderstel om haar vriendin te wees. Sies, man!

Ek dink glad nie jy voel sleg oor wat jy doen nie, anders sou jy dié ding gestop het.

Liewe Antie Mona

EK EN my man staan op skei nadat ek sy leuens en verneukery nie meer kon verduur nie.

In die sewe jaar dat ons getroud was, is goeie herinneringe aan die weinige kant.

Ek wou dit eers nie glo toe mense close aan my sê hulle sien hom uithang met ander vroumense nie.

Wanneer ek hom daaroor uitgevra het, het hy gesê hulle maak stories op omdat hulle nie wil hê ek moet gelukkig wees nie.

Dit was totdat ek afgekom het op selfoonboodskappe tussen hom en ’n meisie wat hy eenkeer as sy niggie aan my voorgestel het.

Dié meisie was toe eintlik die ma van sy kind.

Toe ek haar konfronteer, het sy in trane uitgebars en gesê my man het beloof om eendag met haar te trou, maar dis vir eers moeilik, want ek is ’n psycho wat hom nie wil laat gaan nie.

Ek het haar sommer saamgevat toe ek hom die laaste keer gaan konfronteer het.

Dié keer kon hy nie lieg nie. So, toe blameer hy mý vir sy slegtigheid.

Ek moes toe hoor ek was nooit daar vir hom nie, dat ek net op my loopbaan fokus­ en hom basies na ander vroue gedryf het.

Ek was verstom, want ek het nog nooit iemand anders voor hom geplaas nie.

My familie het my voor ons troue gewaarsku dat hy ’n player is, maar ek het hulle geïgnoreer, want ek het geglo ons liefde kan enige iets oorkom.

Ongelukkig was ek verkeerd, maar ek het ook besef dis nog nie te laat om oor te begin nie.

Ek is deesdae gelukkig terwyl hy soos ’n verslete vloerlap lyk en van werk tot werk swerf.

Soms kry ek hom jammer, maar dan onthou ek weer die pyn en vernedering wat ek verduur het.

Ek weet baie ander vroue verduur dieselfde lyding as wat ek verduur het.

Ek wil vir julle sê moenie die guilty-baadjie aantrek nie, want jy is nie die skuldige een nie. Dis nie jou skuld dat jou man sleg was of is nie.

Jy dryf hom nie in die arms van ’n ander vrou nie, dis daai ding tussen sy bene wat dit doen.

Ek val deesdae nie sommer vir mans se kaarte nie. Baie van hulle het al hulle luck getry, maar ek gee hulle nie daai satisfaction nie.

Die geluk wat ek deesdae geniet, sal ek nie weer verruil vir die leë beloftes van ’n liegbek-man nie. Bevryde Vrou

Halleluja! Amen! Good for you, vrou!

Antie hoop net die baie vroue wat vandag in ’n situasie soortgelyk aan joune is, put inspirasie uit jou brief.

Die lewe is te kort om toe te laat dat ’n man jou vir ’n pop vat.

En as hy dan nie die kop op sy skouers wil gebruik om berou te hê oor sy sondes nie, moet hy maar die gevolge verduur van die een verder suid.

Mag jy net van krag tot krag gaan. En wie weet, eendag wanneer jou hart weer heel is, vind jy ’n man wat jou sal waardeer vir die ystervrou wat jy is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters