4 maande gelede
Sy weet nie meer hoe om man happy te hou
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS nou al raadop en pretend al jare lank dat ek gelukkig getroud is.

Maar dit haal my nou in. My man word net erger.

Ek probeer my bes, gee sy kos op tyd en sy tee. Ek maak altyd iets lekkers om te eet. Antie, elke week was en stryk ek sy klere vir hom tot op sy slaapklere.

Ek loop nie rond nie en is elke dag in my huis, maar my man kan net niks goed van my sê nie.

Hy skel my uit dat ek ’n hoer is, maar hy is die een wat rondloop en drink en huis toe kom wanneer hy wil.

As hy huis toe kom, kry hy my altyd by die huis met die kinders.

Ek drink en rook nie. Wat moet ek doen sodat hy kan happy wees?

Ek huil elke dag oor die seer woorde wat ek kry.

Dan troos my kinders my en sê ek moenie huil nie.

My 18-jarige dogter vra vir my hoekom ek hom nie los nie, maar sy verstaan nie dat dit nie so maklik is nie.

Ek is nog jonk, Antie – maar net 38 jaar oud – en ek leef net vir my man en my kinders.

Ek wil net hê dat hulle happy moet wees, maar dit is duidelik nie genoeg vir my man nie.

Ek voel om te skei, maar sal dit regverdig wees? Moedelose Ma, WhatsApp

En so dink jy en consider jy ’n jong wat jou nie waardeer nie en in die proses skeep jy jou eie geluk af.

Meisa, dit is nie jou plig op hierdie aarde om jou man gelukkig te hou nie. Hy kry sy geluk by daai plekke waar hy uithang en dan kom hy met ’n stink attitude huis toe.

As jy my vra, is hy die een wat hoeka agter die deur staan, en dan wil hy jou van allerhande dinge beskuldig.

Wat meer moet jy doen om hom gelukkig te maak? Happiness by Pep gaan lay-by?

Niks wat jy doen, gaan ooit goed in sy oë wees nie, want hy is te veel van ’n etter om die goed wat jy in sy lewe is met sy oë raak te sien.

Gaan dit regverdig wees van jou om te skei? Kom Antie vra jou so: Is dit fair dat jy elke dag van jou getroude lewe soos ’n vloerlap behandel word deur ’n man wat jou nie waardeer nie?

Jou eie kinders sien al hoe jy getreat word en begin al vrae vra oor hoekom jy hom toelaat om jou so te behandel.

Jy verdien ook happiness. Dis tyd dat jy dit begin glo.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters