Verlede maand
Sukkelende ma soek net beste vir kroos van vier
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS 18 jaar oud en tans in gr. 12.

Ek weet nie of ek by die regte deur aanklop nie en mense gaan seker sê ek is mal.

Ek wil net graag iets vra wat my liefste ma se diepste verlange is, die ding wat sy vir haar vier kinders wil gee.

Sy werk nie en kry maar swaar werk. As sy wel ’n werk kry, dan is dit net ’n kontrak vir ’n paar maande.

Daarna is sy maar net weer daar waar sy is, by die huis.

Ek het een keer afgekom op ’n brief wat my ma geskryf het oor hoe sy elke dag voel omdat sy nie vir haar kinders kan gee soos in die tye toe sy gewerk het of toe sy nog haar eie vrugte-en-groente-stalletjie-besigheid gehad het om vir haar kinders te kan sorg nie.

Eerste in haar brief staan sy verlang ’n huis wat alles binne-in het en ’n tweedehandse bakkie waarmee sy weer vrugte en groente kan verkoop.

My ma sal altyd sommerso uit die bloute net vir ons sê: “Weet julle wat? Ek is en raak óp van só sukkel.

“Ek gaan maar aan een van die mense soos Oprah Winfrey of Steve Harvey ’n brief skryf om te vra of een van hulle my dalk kan bless.”

Sy wil net haar kinders en haarself dit gee waarvan sy so lank al droom en na verlang.

Ek wil net vra of Antie my dalk kan help om my ma se drome te bewaarheid. Groot asseblief!

Terwyl ek hier geskryf het, het my trane die hele tyd gerol. Ek sal Antie ewig dankbaar wees, asook diegene wat my ma se drome sal kan help waar word.

Ek wil nie eintlik hê my ma of enige en moet hiervan weet nie, want ek weet nie hoe dit gaan uitdraai nie en dan lyk ek agterna soos die grootste grap.ML, WhatsApp

Liefie, dit is die mooiste, mooiste brief hierdie en enige iemand wat gaan dink jy is mal of ’n grap, is nie lekker in hul kop nie.

Ai, Antie wens so ek het byvoorbeeld in die PowerBall miljoene gewen. Jy sou beslis eerste op Antie se lysie gewees het.

Die hartsbegeertes van ’n ma val nooit op dorre, onvrugbare grond nie. Antie glo dat jul breakthrough om die draai is.

Kom ons hoop daar is mense daar buite wat julle in enige way van hulp kan wees. Hulle kan Antie sommer vra om met jou in kontak te kom.

Die lewe is nie maklik nie. Elke dag se struggles kan ’n mens se drome so maklik een vir een kill.

Maar Antie glo altyd dat ’n mens wat nie droom nie, verlore is, cos why, drome word waar. Dit vat net verskriklik baie harde werk en toewyding.

Jy mag dit dalk nie nou so sien nie, maar jy is ook in ’n posisie om jou ma se drome waar te maak.

Covid-19 het in 2020 baie dinge deurmekaar kom maak – veral vir jou, wat tans in matriek is.

Doen alles in jou vermoë om goeie punte te behaal en sodoende vir beurse te kwalifiseer.

Onthou, die regering se NSFAS-beurs is ook daar om geld te verskaf vir verdere studie.

Die ding wat jong mense veels te dikwels miskyk, is dat education die antwoord is om bo hul omstandighede uit te styg.

En as jy van education gebruik maak, gaan jy sien dat jy eendag in ’n posisie sal wees om van jou ma se drome te bewaarheid.

So, moenie moedeloos raak oor jou omstandighede nie; put inspirasie daaruit en laat dit jou motivate om dinge in jou guns te laat draai.

Alle sterkte. Kom ons kyk of lesers van hulle gaan laat hoor.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters