21 dae gelede
Slapelose nagte oor ou se oë nog ronddwaal
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my kêrel is nou al ongeveer vyf jaar saam.

Hy sê hy is lief vir my en dat ek baie vir hom beteken.

Hy sê hy soek iemand wat vir hom ’n vrou kan wees, wat groter dink en wat drome kan uitlê.

Die liewe Vader weet ek is mos nie ’n mens wat drome kan uitlê nie.

Ek is so lief vir hom en boonop het ons ’n kind saam. Hy voel ook ons moenie mekaar los nie en ons moet ons kind so saam grootmaak.

Hy soek ook nie ’n ander man in die kind se lewe nie. Dit moet hy wees.

Maar, Antie, hy is die een wat nog wil rondkyk.

Hy soek nog rond, maar hy wil my ook nie los nie. Hy chat met ander vroumense en bel hulle in my teenwoordigheid.

Ons is in hierdie stadium nie meer lekker met mekaar nie en ek weet nie wat om te doen nie.

Ek probeer so hard om die vrou te wees wat hy soek, maar hy verwag seker te veel van my.

Of weet hy nie eintlik wat hy wil hê nie?

Help my, Antie, asseblief! Ek slaap nie saans nie en my oë skiet dag en nag vol trane.

Wat meer moet ek doen dat hy kan besef ek is die vrou wat hy soek? – Moedelose Meisie, Whats­App

Nêrens op ’n kol staan ’n rule in die lewe geskryf wat sê jy moet so agteroorbuig om hierdie man te please dat jy jou rug breek nie.

Jy moet aanvaar word met ál jou flaws en goeie punte.

Geen mens op hierdie aarde is immers perfek nie.

Hierdie man weet jy is verleë vir hom, daarom vermaak hy jou met oproepe aan ander vroue. En hy doen dit in jou teenwoordigheid.

Sy optrede sê vir Antie dat hy nie lief is vir jou nie en g’n respek vir jou het nie.

Dit is tyd dat jy besef dat jy nie ’n halwe mens is sonder hom in jou lewe nie.

Dis tyd dat jy besef dat jy vir so lank as wat jy saam hierdie man is, altyd die minste sal moet wees en alles sal moet doen om hom te satisfy.

En wat doen hy vir jou, behalwe om jou hartseer te maak en jou dag en nag te laat huil?

Nee wat, meisa, droog af draai trane en besef ’n slag jou worth.

As hy jou nie kan appreciate nie, is dit tyd dat jy besef dat daar baie outjies daar buite is wat jou ’n beter lewe sal gee.

Daar is nog meer as genoeg goeie mans daar buite wat jou onvoorwaardelik sal liefhê en jou op die hande sal dra.

Hulle sal egter eers na vore kom wanneer die skille van jou oë afgeval het. Jy verdien baie, baie beter as dit waaraan jy op die oomblik blootgestel word.

Hy kan steeds daar wees vir jul kind, sonder dat hy jou lewe so hel maak. Raak ontslae van hom en begin ’n bietjie lewe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters