26 dae gelede
Seuns het vaderfigure nodig
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

IN ONS gemeenskappe begin klein seuntjies gangsters word deurdat hulle toegelaat word om te maak en doen soos hulle wil.

Toe ek jonk was, het grootmense gesê: “Buig die boompie terwyl hy jonk is.”

Baiekeer is ouers onkundig, want hulle is sélf nog kind.

Antie, ek lees van die 25-jarige vrou wat met klein kindertjies by ’n 50-jarige tronkvoël in ’n wendy woon.

Dit spel mos niks goeds nie. Kyk wat het met daai arme kindertjies gebeur. Hulle is vermoor! Enkelmoeders moet mos eerstens dink aan hulle kinders se veiligheid. Vroumense moet kyk met wie hulle ’n verhouding aanknoop.

Daar’s te veel kinders wat sonder die beskerming, liefde en sorg van ’n pa grootword. Te veel vroue moet alleen sukkel om kinders groot te maak. Waar is die manne? Jy het mos saam gelê!

Dis ook hoekom seuns opkyk na ’n dwelmbaas. Hy’s ’n vaderfiguur.

Armoede is ook ’n ellende.

En so ook ons skole. Skole is deesdae misdaadtonele waar dwelms, en bendes met messe oorheers en onderrig onmoontlik maak.

Dwelms vernietig ook ons jeug, wat veronderstel is om ons toekoms te wees. – Besorgd, WhatsApp

Antie moes jou brief báie sny, want dit lyk dan die hele land se probleme kwel jou!

Maar jou brief is ook vol insig en besorgdheid.

Alles begin by die huis. Veels te dikwels rule die kinders ons mense se huishouding.

Dit is tyd dat ouers weer die leisels vat en aan die stuur van hulle gesin staan.

Ons kinders van vandag is wie hulle is weens dit wat in hulle huis en gemeenskap plaasvind. Hulle is ’n weer­spieëling van dit waaraan hulle blootgestel word.

’n Kind is net dit wat sy of hy allow word om te wees.

Die verantwoordelikheid van hoe môre se volwassene gaan lyk, begin en eindig by die ouer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters