2 maande gelede
Seun nou nie seker ná meeting met ‘sleg’ pa
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY PA het my ma gelos toe sy nog swanger was met my.

Oor die jare wou ek ’n relationship met hom opbou, maar hy wou niks daarvan weet nie.

Later het hy getrou en ander kinders gehad. As ek en my ma hulle in die dorp raakgeloop het, het hy eenvoudig weggekyk.

Antie, dit het diep seergemaak.

So twee weke gelede bel hy my ná jare uit die bloute en vra of hy my kan sien.

Ek was nie lus nie, maar my ma het so aangehou dat ek toe maar ingestem het.

Ons het by ’n mall ontmoet vir lunch en ek het groot geskrik toe ek hom sien.

Ek het hom nog onthou as die frisgeboude man met die spogge­rige stappie.

Maar voor my het ’n siek, brandmaer man gestaan. Ek het nie geweet wat om te sê nie.

Hy vertel my toe hy het kanker en dat die dokters kon niks meer vir hom doen nie.

Sy oë raak toe vol trane toe hy om verskoning vra vir die jare dat hy my so gruwelik behandel het.

Hy sê toe hy wil graag ’n relation­ship met my bou.

Nou, ná al die jare toe hy gemaak het asof ek ’n stuk gemors is.

Ek het hom toe maar gesê ek gaan daaroor dink.

Ek kan nie anders as om die idee te kry dat hy net sy sake wil regmaak voordat hy sterf nie.

Hoekom my nóú wil erken, noudat sy tyd amper om is?

Waar was hy al die jare toe ek verleë moes kyk hoe ander kinders met hulle pa speel?

Ek voel wat hy van my vra, is nie fair nie. My ma voel natuurlik nie so nie.

Ek weet nie wat om te doen nie, want die man bel nou elke dag nadat hy vir jare nie eens geworry het om my op my birthdays te bel nie. – K van CBS, WhatsApp

Antie is jammer vir ál die seer wat jy in jou lewe moes deurmaak. Niks maak meer seer op hierdie aarde as ’n ouer wat jou nie as sy/haar kind wil erken nie.

Gelukkig het jy ’n ma gehad (en het steeds) wat jou met waardes grootgemaak het en dis hierdie waardes wat gesorg het dat jy nie knak en jou lewe weggooi nie.

Daar is niks wat kan justify wat jou pa jare lank aan jou gedoen het nie.

En ja, niks wat hy nou sê, gaan regmaak of vergoed vir wat hy aan jou gedoen het nie.

Dit is dalk inderdaad die dying wish van ’n ou, sieklike en diep berouvolle man.

Maar gaan jy nie eendag wonder en jouself verwyt as jy nie van dié geleentheid gebruik maak nie?

Ons kry nie altyd die wishes wat ons in die lewe wil hê nie. En dit maak nie saak hoe hierdie kans finally na jou gekom het nie, hier het jy nou die geleentheid om jou pa beter te leer ken.

Dit het ’n ongeneeslike siekte gevat om sy oë finally oop te maak. Tyd is kosbaar en hierdie kans gaan nie weer in die lewe vir jou kom nie.

Besides, wat het jy om te verloor? Jy is die produk van die harde werk en opofferings van jou ma. Jy kan ’n beter mens as hy in hierdie tragiese aspek van jou lewe wees.

Om in sy die laaste oomblikke met respek op te tree teenoor die sieklike ou man is die legacy wat jy gaan agterlaat – die produk van jou ma se baie goeie opvoeding wat sy aan jou gegee het.

Dit maak van jou ’n beter mens as wat hy op sy dag was.

In fact, jou kinders gaan eendag die storie kan oorvertel van hulle goeie pa wat nooit sy eie pa rêrig geken het nie, maar hom aan sy einde bygestaan het.

Onthou ook dat niks oor jou pad gestuur word wat jy nie kan hanteer nie.

Ek weet ’n mens voel baiekeer: Hoekom ek?

Dis omdat jy dit gaan kan hanteer. Dit gee jou ook die geleentheid om te leer om griewe eenkant toe te skuif terwyl jy besig is om met jou pa te deal.

Die beste manier om die gesprek aan die gang te hou, is om dit lig te hou en hom te vertel van jou alledaagse doen en late. Van daar kan jy self besluit hoe jy oor hom moet voel.

Antie wil nie hê jy moet jouself verwyt wanneer jy sy ouderdom is nie. Maar dis jóú besluit alleen – en een waarmee jy vir die res van jou lewe sal moet saamleef.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters