5 maande gelede
Ou wil haar by hotel, en nie in public, ontmoet
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS 27 jaar oud en het nie ’n vaste ou nie.

Die ouens wat ek date, bly nie lank nie. Ek vermoed dis oor ek ’n kind het.

Dit smaak my sodra hulle gekry het wat hulle wou hê, dan verdwyn hulle.

Ek het ’n paar maande gelede die wonderlikste ou op Whats­App ontmoet.

Hy is alles wat ek in ’n man soek, maar die probleem is dat hy nog getroud is.

Antie, hy is 10 jaar ouer as ek en sê hy bly by sy vrou net ter wille van hul kinders.

Hy sê hulle slaap nie meer in dieselfde bed nie, en sodra sy kinders oud genoeg is, wil hy graag met my trou.

Ons het nog nie ontmoet nie, maar hy bel my gereeld en ons chat elke dag op WhatsApp.

Hy is ’n baie goeie man en wil altyd weet hoe dit met my en my kind gaan.

Geen ander ou was al so besorg oor my nie. Antie, ons maak nou planne om vroeg dié jaar te ontmoet.

Hy wil vir ons ’n hotelkamer boek. Ek moet sê ek sien nogal uit daarna.

Maar ek wonder net of dié ou my nie ook gaan disappoint soos die ander voor hom nie...

Ek is al so moeg van seerkry. – D van K

Liefie, dit is darem veels te vroeg in die jaar om so naïef te wees.

Dink jy regtig dié man wil vir julle ’n hotelkamer boek sodat hy jou face to face kan vra hoe dit met jou en jou kind gaan?

Dit is duideliker as daglig dat dié man net agter één ding aan is ...

Hy sê hy en sy vrou slaap nie saam nie, maar hoe weet jy dis die waarheid?

Hy het dalk nie eens huweliks­probleme nie, behalwe nou dat hy sy vrou verneuk.

Jy maak ’n fout deur sy gladdebek-stories vir soetkoek op te eet.

Antie wed jou, sodra ook hy gekry het wat hy wou hê, sal ook hy soos mis voor die son verdwyn.

As hy so graag met jou wil wees soos hy sê, sal hy skei.

’n Man wat jou nie in die openbaar wil ontmoet nie maar in die kamer van ’n heel waarskynlik dodgy­ hotel, steek definitief goed weg.

Moenie jou (weer) vir ’n fool laat vat nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters