11 dae gelede
Ou is baie lief vir sy girl wat alewig cheat
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET my girlfriend al meer as een keer met ’n ander man gevang. Sy doen haar dinge altyd naby die huis.

Ek is baie lief vir haar. Wat maak ek in so ’n geval? – Desperate Boyfriend, WhatsApp

Liewe mens, hoeveel keer wil jy dan hierdie girlfriend van jou uitvang voordat jy besef sy speel net met jou? Mind you, dit is nie jou girlfriend nie – dit blyk ’n hele paar mans se stukkie te wees.

Nee wat, jy sal moet end kry met jou verleëgeid vir ’n meisie wat jou so vir ’n pop vat. Sy dink so min van jou dat sy nie eens mind om haar dinge naby die huis te doen nie.

Sy gaan nie ophou nie. Wil jy dan eers wakker skrik as sy jou met een of ander vleeslike siekte besmet?

Die dae dat Eva ál vrou op die aarde was, is mos lankal iets van die verlede.

Liewe Antie Mona

EK IS H van die Wes-Kaap en het ’n paar jaar gelede uitgegaan met iemand. Ek was 20 en sy 17.

Ons het net vir ’n maand uitgegaan en het ná my 21st opgebreek.

Ek het daardie tyd by Shoprite gewerk en haar ma-hulle was nie impressed daarmee nie, want hulle wou hê sy moet ’n berk vat wat geld het. Antie, ek het nie baie verdien nie, maar was lief vir haar.

Ons was vir vier jaar uitmekaar en ek het haar altyd by die werk gesien as sy en haar ma daar kom shop het. Ek het toe weer my move gemaak en daar is toe ’n pragtige dogtertjie gebore.

Ek was daar van geboorte af vir my kind. Dinge het toe skeefgeloop en ek moes by die hek staan om my kind te sien.

Haar familie het toe gemaak dat sy dinge vir die magistraat vertel wat nie waar is nie. Toe kon ek nie my kind sien nie.

Ná drie jaar ontmoet sy toe ’n man wat drie kinders by verskillende vroumense het. Hy wil my toe slaan en dit oor my eie kind.

Ek verlang na my kind. Ek is bang dat sy grootword sonder dat ek deel van haar lewe is. My hande is afgekap.

Ek wil nie hê sy moet dink ek het haar weggegooi nie. Haar ma probeer my met ’n ander man replace­. – Liefdevolle Pa, Whats­App

Jy het in jou baie lang boodskap genoem dat jy by geleentheid jou kind aan die hand gegryp en probeer weghardloop het.

Jy was desperaat om deel van jou kind se lewe te wees. Dit het natuurlik nie goed afgegaan by die magistraat nie.

Die onus rus op jou om aan die hof te bewys dat jy net jou kind se belange op die hart dra.

As pa het jy regte. Daar bestaan nie iets soos ’n substitute-pa nie.

Dit klink asof jy opreg lief vir en besorg oor jou dogter is.

Nou is dit tyd om ’n hof van jou opregtheid te oortuig. Gaan dus na jou hof se kinder-afdeling en kry die bal aan die rol. Sterkte!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters