13 dae gelede
Ou hou haar aan ’n lyntjie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET iemand ontmoet, maar ek is nie so seker oor hom nie.

Hy maak ál die regte geluide wanneer ons chat, maar ons kom net nooit tot by ’n punt waar ons ontmoet nie.

Daar is elke keer iets anders wat opkom: As hy nie ekstra skofte moet werk nie, dan is sy ma siek.

Een keer moes hy glad sy hond na die vet vat. Die verskonings hou net nie op nie, maar hy is die een wat altyd kom met voorstelle dat ons moet ontmoet.

Antie, dit gaan nou al vir maande so en ek behoort hom seker as ’n contact te delete, maar ek hou van sy geselsies. Hy laat my lag en goed voel oor myself. Hy is nie soos die ander creeps wat net agter een ding aan is nie.

Ek het hom al gevra of daar iemand in sy lewe is, maar hy het my verseker daar is niemand anders nie en dat hy al ’n paar jaar geskei is.

Moet ek maar alles los en aan­beweeg? D van H, WhatsApp

Liefie, wanneer ál die teëspoed en rampe met slegs een mens gebeur, dan moet jy sommer wéét daar is fout.

Niemand in hierdie lewe is so belangrik dat bad luck net op hulle wil fokus nie. Hierdie man is nie eerlik met jou nie.

Die een verskoning ná die ander sê vir Antie daar is ’n slang in die gras. Hy is in alle waarskynlikheid steeds getroud en glad nie geskei soos wat hy beweer nie.

As hy single is en gereed om te mingle, sal hy mos moeite maak om by jou uit te kom.

Vir Antie sê dit net die tye wat jy hom nie online kry nie, is hy saam met sy vrou waar hy die rol van die lucky husband vertolk.

Nee, wat, dis glad nie nodig om jou tyd verder met hom te mors nie.

Antie kan natuurlik verkeerd wees, so stel hom voor ’n ultimatum: Of julle ontmoet, of julle gaan julle separate ways.

As hy kom met nóg ’n verskoning, dan weet jy hierdie man is uit op speel.

Maak nie saak hóé goed hy jou oor jouself laat voel nie, jy het nie ’n liegbek nodig om goed oor jouself te voel nie.

Hou op om al vir maande oor hom te wonder. Vind nou vir eens en vir altyd uit of hy jou nie maar net aan ’n lyntjie hou nie …

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters