Verlede maand
Ná 12 jaar ontdek ek kind is nie myne
Auntie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK SIT met ’n klompie k*k in my lewe.

My vrou het opgemors. Ek is ’n daddy van vier kinders. Laas jaar in Augustus het ek uitgevind die een kind, die 12-jarige, is nie myne nie.

Ek is al 16 jaar in hierdie huwelik! My hele lewe is nou ’n f*k*p en ek voel net om te sterf.

Waarvoor leef ek nog? Help my, asseblief, Antie?

Ek huil elke dag van my lewe. – Pa van MP, Whats­App

Dit is ’n verskriklike ding wat jou oorgekom het. Dis iets wat ’n mens nie eens jou grootste vyand toewens nie.

Enige een wat net die woord “wiskunde” kan spel en ’n bietjie kan tel, sal tot die slotsom kan kom dat julle vier jaar getroud was toe jou vrou by iemand anders geslaap het.

Die uiteinde hiervan was ’n kind wat verwek is en die voorgee dat dit joune is, siende dat julle mos getroud is.

Jy brei nie veel uit oor hoe jy uitgevind en of jy jou vrou gekonfronteer het nie.

Al moes hierdie nuus vir jou devas­tating gewees het, is daar steeds baie posi­tiewe dinge om aan te klou.

Waarvoor leef jy nog? My mens, jy leef vir jou kinders – dit is waarvoor jy steeds moet leef.

Jy het steeds vier wonderlike, pragtige kinders.

Ek sê vier, ja, want hoewel die een dalk nie jou vlees en bloed is nie, het jy hom of haar van geboorte af met die grootste van liefde en toewyding grootgemaak. Hulle bly almal steeds jou kinders.

Antie weet nie watter impak hierdie nuus op jou huwelik en verhouding met jou vrou het nie, maar wat ek wel weet, is dat dinge tussen julle nie op die oomblik maklik kan wees nie.

Dit is ’n groot krisis in jou lewe dié, maar dis nie iets wat jou sal onderkry nie.

Jy is sterker as die storm wat op jou pad geplaas is.

Hierdie alleen huilery is nie goed vir jou gesondheid en gemoed nie.

Jy sal iemand moet kry met wie jy oor jou feelings kan praat.

Om oor jou gevoelens te praat gaan nie ’n act van swakheid wees nie; dit gaan vir jou support kry om deur hierdie moei­like tydperk te kom.

So, kyk asseblief na berading as ’n opsie, want jy moet jou welstand ook in ag neem. Hierdie affêre kan jou siek maak, en in ’n siekte­toestand neem jy dalk halsoorkop besluite.

Niks gaan jou onderkry nie. Byt vas, druk deur en hou aan bou aan jou verhouding met jou kinders. Almal van hulle.

Moenie jouself eenkant hou en mense van jou wegstoot nie.

Dit gaan nie jou greatest failure wees dié nie, dis jou greatest battle. Een wat jy gaan wen. Antie glo dit.

Alle, alle sterkte!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters