Verlede maand
Ná 11 jaar hoor ek my dogter is nie myne
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WEET nie waar om te begin nie, Antie. My lewe is een groot gemors.

Drank is een groot vyand. Ek het my vrou gevang seks met my beste vriend.

Daai was in 2011 en ek het my bes probeer op die huwelik te red.

Maar nou, twee, drie weke gelede kom vind ek uit my jongste kind van 11 jaar oud is nie myne nie.

Wat maak ’n mens in so ’n geval, Antie? Ek is siek van hierdie hele gemors.

Manne en vroue wat cheat, moet hulle k*k stop.

Ek het gefile vir divorce en sy sal binnekort met divorce-papiere geserve word.

Ek weet nie wat om so ’n vrou te noem wat sulke dinge aan haar man doen nie. – Verpletterde Man, WhatsApp

Jinne, hierdie moes vir jou die ergste nuus gewees het!

Eers moes jy jare lank met jou vrou se owerspel deal­. Net om nou uit te vind dat die kind wat jy 11 jaar lank as jou eie grootgemaak het, nie joune is nie.

Hierdie is egter nie ’n geval van bloed is dikker as water nie, want vir 11 jaar ken daai kind jou as haar pa. Die band wat julle bind, is nie tot bloed beperk nie.

Antie hoop van harte dat die verhouding tussen jou en jou dogter nie nou gaan verander omdat jy nie haar biologiese pa is nie.

Niemand kan en behoort die band te breek wat al jare tussen julle bestaan nie.

Dit is jammer dat jou soon-to-be eksvrou dinge so lelik opgemors het.

Die slegte in die lewe moet egter nooit die goeie oorskadu nie.

Net soos wat hierdie ’n deurmekaar tydperk van baie seer vir jou is, is dit so vir jou dogter.

Laat haar weet jy is steeds en sal altyd deel van haar lewe bly.

Hierdie is ’n tyd vir julle om nader aan mekaar te beweeg en saam deur hierdie moeilike tyd te druk.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters