12 dae gelede
'n Dak oor jou kop is nie goedkoop nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS Big Daddy van die Kaap en my meisie is van Beaufort-Wes.

Ons gaan nou al drie maande uit en is baie lief vir mekaar.

Ons ken mekaar al jare, maar het mekaar nou eers gevind.

Sy het twee pragtige kinders vir wie ek baie lief is.

Antie, die eintlike probleem is ons is op soek na blyplek, maar ek het goed wat uitstaande is wat ek nog moet betaal.

Maar ek kan nie so lank wag om ’n plek te kry vir ons nie, want sy is in ’n verknorsing by haar huis. Haar familie is nie lekker met haar nie.

Ek het ook nie my eie plek nie. Ek huil elke aand net om te dink hoekom ons so moet sukkel om ’n plek te kry.

Die kriteria vir die huur is so hoog dat ek nie eens ’n deposito het nie, want ek het nie leengeld nie.

Al my opsies het nou opgedroog. – Big Daddy van die Kaap, WhatsApp

Big Daddy met die groot behuisingsprobleem, die realiteit is dat daar nie ’n quick fix vir jou nood is nie. En nou het die lockdown dinge ook nog erger kom maak.

Ongelukkig is ’n dak oor jou kop nie goedkoop nie.

En geen landlord gaan kans sien vir jou in jou huidige omstandighede as daar geen waarborge is dat jy wel elke maand die huur sal kan betaal nie.

Probeer maar so gou moontlik jou skulde delg sodat jou kredietrekord kan improve.

Wie weet, dalk kan jou finansiële omstandighede so ver­beter dat jy nie net in staat sal wees om te huur nie, maar selfs ’n plekkie van jou eie te kan koop.

Jou meisie se huislike omstandighede is ongelukkig uit jou hande.

Dit is iets waaraan sy van haar kant af kan werk om seker te maak sy stryk dinge met haar huismense uit.

Jy wil ook nie ’n situasie hê waar hulle sak en pak by jou intrek en dan laat jou finansiële swaartrekkery jou voel hulle lê op jou nek nie.

Jy praat ook g’n niks van planne om met hierdie meisie te trou nie.

Veels te dikwels word daar agterstevoor om gewerk wat die romance van die lewe betref.

Wil jy dan nie eers trou voordat julle sommer huisie-huisie speel nie?

’n Mens se geldprobleme verdwyn nie soos mis voor die son nie.

Dit is ’n proses wat geduld verg en jou soms kan laat voel asof jy nie lig aan die einde van die tonnel kan sien nie.

Maar aanhouer wen en voordat jy dit besef, sal jou geld­sake stukke beter lyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters