17 dae gelede
My vrou sê my nie eens ons kind is dood nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS lief vir my meisie, maar sy bly sê ek bewys nie genoeg hoe lief ek haar het nie.

Wat moet ek doen? Raadop

En presies hoe moet jy dan nou elke keer jou liefde vir haar bewys – sê sy dalk?

Met geskenke? Deur elke fortnight skoor te gaan soek met ’n vuurspuwende draak? Deur al oor ’n maand die Macarena op jou kop te dans?

Liefde is nie ’n kwessie van bewys nie; dis ’n kwessie van twee mense wat omgee vir mekaar en selfs agting het vir mekaar se verskille.

Liewe Antie Mona

EK EN my vrou is vier jaar getroud. Ons dogtertjie is byna twee jaar gelede oorlede.

Antie, my skoonma het my vrou agter my rug laat steriliseer, dít terwyl ek graag nog kinders wou hê.

Wat moet ek nou doen? Behoort ’n man en vrou dan nie saam te besluit oor so ’n stap nie?

Ek het al vir my vrou gevra wat sy sal doen as ek kinders by ’n ander vrou maak.

Natuurlik sal ek dit nooit doen nie, want ek het my vrou te lief om op haar te cheat en ek wil haar ook nie dwing om my te skei nie.

Antie, die ergste vir my was toe my ma my bel en vir my sê my kind is dood en reeds begrawe.

Ek was van Bloemfontein op pad Kaap toe, en toe ek in die Kaap aankom, het hulle klaar begrafnis gehou.

So, ek is nie eens die geleentheid gebied om my kind se begrafnis by te woon nie. Moedelose Man van die R

’n Hele paar dinge in jou brief ontstel Antie diep.

Maar die ergste daarvan is sekerlik die dubbele slag van jou dogtertjie se dood en dat sy in jou afwesigheid begrawe is.

Hoe kan jou vrou dan nie eens die moeite doen om jou, haar pappie, van haar dood in kennis stel nie?

En dan begrawe sy haar sonder om jou die geleentheid te bied om afskeid te neem van haar.

Antie móét sê, baie mense sal jou nie verkwalik as jy niks meer met jou vrou te doen wil hê nie.

En asof dít nie erg genoeg is nie, laat sy toe dat haar ma haar oorreed om haar te laat steriliseer sonder om die issue eers met jou te bespreek.

Hoekom word jy dan nie in dié huwelik geken nie?

Eers word jy nie oor die dood van jou kind ingelig nie.

En toe word sommer besluit daar sal ook nie meer kinders wees nie, dít sonder om jou opinie daaroor te vra.

Nou, watse huwelik is dit dan dié – een waarin jy, jou gevoelens en opinie nie tel nie?

Jy sê jy is lief vir jou vrou, en Antie glo jou, maar is jy seker sy is lief vir jou?

Antie vra, want as sy iets vir jou gevoel het, sou sy mos nie toegelaat het dat jy dié dinge verduur het nie.

Dit klink vir my asof jy net vir die show in dié huwelik aangehou word.

Dis jóú huwelik en jý moet besluit wat jy gaan doen, maar as ek in jou skoene was, sou ek geworry het oor hoekom ek so geminag word.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters