4 maande gelede
My ‘ou skoene’ loop toe baie beter as die nuwes
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK WAS vyf jaar in ’n verhouding waarin ek baie gelukkig was.

Ek het wel gedink die persoon by wie ek was, verstaan my nie, maar ons gevoelens vir mekaar was steeds sterk.

Ons het opgebreek weens misverstande en omdat ons mekaar nie gerespekteer het nie.

My nuwe liefde, met wie ek nou al ’n jaar uitgaan, is ongelukkig nie veel beter nie.

Sy is nie die tipe girl wat ek gedink het sy sal wees nie.

Sy is ’n kerkmeisie, maar sy is baie modern. Ek het gedog sy gaan outyds wees.

Ek voel my ou liefde was beter, al het ons so baie gestry.

Ek is nog in kontak met my vorige meisie. Ek weet nie watter een vir my die beste is nie. – G van die Gelvandale, WhatsApp

Hoe kan jy gelukkig wees in ’n verhouding waarin nie een van die partye die ander een re­spekteer nie?

Dit is mos nou amper soos om te sê jou pa en ma is lank, maar nie te lank nie.

En wat is fout met moderne meisies wat vir hulleself kan dink?

Hoekom klink jy dan vir Antie soos daai tipe wat nog glo ’n vrou se plek is in die kombuis?

Wanneer ’n verhouding nie uitwerk nie, kan die vinger nie net heeltyd na die ander party gewys word nie. Onthou, drie vingers wys immers in jou rigting.

Is dit net dié meisies se gedrag wat aanleiding gee tot die verbrokkeling van julle verhouding? Is jy aanmekaar die perfekte een wat niks gemaak het nie?

Dit is tyd sal jy jouself ook ’n bietjie onder die vergrootglas sit en kyk op watter vlakke jy as mens kan verbeter.

Wanneer dinge nie na jou wishes is nie, spring jy van die een verhouding na die ander.

Jy is nie ’n sprinkaan nie. Hou op rondspring.

Spring wel in jou gedagtes rond oor wat jy kan doen om seker te maak jou verhoudings werk uit.

Liewe Antie Mona

EK IS nou al nege jaar getroud, maar my man het tans ’n verhouding met ’n eks van hom.

Ek ken haar. Sy het my altyd gegroet en met my gesels.

Antie, ek voel so ongelukkig oor die hele affair. Ek wil haar graag slaan totdat ek nie meer die seer binne my voel nie.

Maar iets binne my sê ek moet dit nie doen nie.

Ek was al by ’n speurder om te hoor wat my te doen staan, maar hy sê daar is niks wat hy aan die saak kan doen nie.

Ek is besig met die proses om van hierdie man te skei, want ek kan hom nie meer vertrou nie.

Hy is deesdae soos iemand wat in ’n dwaal is.

Wat kan ek aan die vrou doen? Ek voel sy kan nie wegkom met waarmee sy besig is nie.

Sy is berug daarvoor dat sy met getroude mans jol.

My man is ook te blameer, want dis deur hom dat daar ’n verhouding tussen hulle twee is. – Moedelose Vrou, WhatsApp

Ai, vrou, jy is reg: ’n Jol-saak het twee kante.

Hulle albei is ewe sleg – die een is nie meer to blame as die ander een nie.

Jy kan regsadvies inwin oor hoe jy ’n siviele eis teen hierdie vrou kan instel omdat sy jou huwelik laat verbrokkel het.

Hoe suksesvol só ’n siviele saak sal wees, kan net ’n lawyer jou ongelukkig sê.

Een ding wat jy jou moet afvra, is of dit enigsins worth it sal wees om jou emosioneel en finansieel verder te dreineer.

Sal dit nie maar beter wees om jou egskeiding afgehandel te kry en met jou lewe aan te gaan nie?

Karma sal wel die een of ander tyd jou man of hierdie vrou se nuwe neighbour word.

Dit hang egter alles van jou af en of jy – die geld en emotions ten spyt – ’n voorbeeld van hierdie vrou wil maak.

Wees net gewaarsku: Revenge kan ’n veeleisende taak wees.

Dis jammer dat jou man so min van julle huwelik en vows gedink en dit alles weggesmyt het vir ’n los stukkie wat vir almal beskikbaar is. Dit is egter nie die einde van die wêreld dié nie. Jy sal weer geluk vind en ’n man wat jou waardeer.

Hou kop en moenie iets aanvang wat jy gaan berou nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters