3 maande gelede
My ongebore kind se pa moet trek vir werk
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS 38 jaar oud en swanger met my eerste kind. Die kind se pa is ’n areabestuurder. Ons is twee jaar saam.

Ek woon nog by my ouers omdat ek die enigste kind is en na hulle omsien.

Antie, die kind se pa kry ’n goeie salaris en het twee karre en ’n woonstel. Sy ma en pa is baie arm en ek doen wat ek kan om hom te kry om iets vir hulle te gee. Maar hy blameer hulle vir waar hulle sit.

Hy het my gevra om te trou. Ek beplan dat hy vir ons dan ’n huis koop en die woonstel vir hulle gee.

Maar nou is daar ’n groot probleem: Sy werk stuur hom Durban toe om daar te werk en ek moet saamgaan.

Ek is ’n HR manager en daar is geen vakante poste in Durban nie. Ek sal nie kan saamgaan nie en dit laat my wonder oor die huwelik.

Ek is lief vir hom, maar ons kan nie op sy salaris alleen leef nie.

Wat as hy iemand daar ontmoet as hy lonely is?

Antie, ek kan ook nie my ouers net so los nie.

En wat van sý ouers? Hy wil niks van hulle weet nie.

Wie gaan my help wanneer die baby kom? Ons gesels en gesels rondom die situasie, maar nie óór die situasie nie.

Ek weet nie meer nie. – N van O, via WhatsApp

Hy moenie so hard op sy ouers wees en vergeet dat dit danksy hulle opofferings is dat hy iewers in die lewe gekom het nie.

Of dink hy hy en sy sukses het albei uit die lug geval? Deur ’n mens se ouers te eer en te respekteer, maak jy net meer paaie vol bless­ings vir jouself oop.

Wat jou ouers betref, is daar ’n hele paar opsies.

Een daarvan is om ’n ander familielid te kry om by hulle in te woon en na hulle om te sien.

’n Ander is om ’n plek groot genoeg te kry sodat hulle by of naby julle kan kom bly.

Maar natuurlik hang dit alles af of jy ook ’n pos in Durban kan kry. Die lewe is duur en dis te verstane dat jy bekommerd is oor ’n huwelik waarin net een salaris elke maand inkom.

Antie reken jy kan dalk tydelik agterbly terwyl jy vir jou ’n pos daai kant uitkyk.

As hy regtig lief vir jou is en committed is tot ’n toekoms met jou, sal sy oog nie dwaal nie. Maak nie saak hóé lonely hy is nie.

Maak dus werk daarvan om uit te kyk vir ’n werk in Durban.

Kontak werkagentskappe daardie kant en laat hulle vir jou uitkyk vir ’n pos. Antie is seker iemand met jou kwalifikasies en ondervinding sal vinnig geholpe raak.

Wie weet, dalk is jy baie gelukkig en slaan gou ’n pos daar los.

Maar julle sal oor jul toekomsplanne móét praat.

Dit baat niemand om die issue te vermy nie. Wat kort, is sekerheid. Jy sal slegs vrede in jou gemoed hê as jy weet hoe die ratte in sy kop werk.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters