13 dae gelede
My man ken my ook net as hy seks wil hê
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my man is een van die dae tien jaar getroud.

Ons het drie kinders wat baie lief vir hulle pa is. Maar hulle pa is liewer daarvoor om met sy vriende uit te hang.

As hy in die week by die huis is, is hy vol moods. Dan verskree hy die kinders wat maar net tyd by hom wil spend.

Vrydagoggende as hy klaarmaak vir werk, het hy ’n huppel in sy stap. Dan weet ek al: Die man van my kom nie ná werk huis toe nie.

En dan is dit ook so, Antie. Hy steek dan eers Saterdagoggend uit en ook net om te shower en dan weer na sy vriende toe te gaan.

Ek het al baie met hom hieroor gepraat en gesê hy moet tyd met sy familie ook spend. Dan sê hy hy is in die week by ons. Hy is hier, maar ook nie hier nie, as Antie verstaan wat ek bedoel.

Verneuk

As hy hier is, mag die kinders nie raas as hy TV kyk nie, anders kry hulle vuil kyke. Vir my ken hy net as hy seks wil hê.

Verder praat hy nie eens met my oor hoe sy dag by die werk was nie. Hy vra ook nie eens hoe dinge by my werk is nie.

Baiekeer wonder ek of ons regtig getroud is en nie net saam woon met ons kinders nie.

Hoe kry ek hom sover om aandag aan ons ook te gee? Ek is lief vir hom en glo nie hy verneuk my nie, want die vriende by wie hy uithang, is ook almal getroud. – Ongelukkige Vrou, WhatsApp

Liefie, omdat hulle ’n paar getroude manne is wat naweke saam uithang, beteken dit nie hulle is nie met sluwe dinge besig nie.

Antie is jammer, maar getroude manne hoort by hulle huise. Hoekom uithang by plekke waar jong mense uithang wat nie dieselfde verantwoordelikhede as hulle het nie?

As hulle dan so graag naweke saam wil spend, kan dit mos ’n familie-affêre wees waar daar al om die ander naweek by een van hulle se huise gekuier word.

Jy en die res van die vroue is dan nou grasweduwees sodra Vrydag aanbreek. Om nie eens van julle kinders te praat wat naweke wees is nie.

’n Mens trou nie om ’n gesin te hê net wanneer dit jou pas nie.

Julle is besig om verby mekaar te leef en dis sleg vir julle huwelik.

Hy vat julle vir granted en dit kan nie so gelos word nie.

Probeer agter die kap van die byl kom oor of hy en sy pelle naweke ander vroumense entertain. As dit so is, dan moet hy maar stry totdat hy blou in die gesig is – maar hy sal ’n mental note maak dat jy nie so vaak is soos hy gedink het nie.

En hou op om soos kiepie naweke by die huis te sit en wag vir hom om uit te steek. Vat die kinders en gaan kuier vir familie en vriende.

Laat hom ’n slag wonder hoekom jy ewe skielik ook ’n social life het. Hopelik sal dié gewonder hom meer naweke tuis laat bly. Al is dit ook net om jou op te pas, maar by die huis sal hy dan bly.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters