3 maande gelede
My kind se pa los my vir ’n jolgat-cougar
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

VOLGENDE week is dit presies ’n maand dat ek en my outjie opgebreek het.

Ek kan nou nog nie glo hy het dit aan my gedoen nie, want ons was dan so gelukkig.

Ek het dit regtig nie sien kom nie, veral omdat ons toekomsplanne gehad het.

Hy het gesê ek is sy alles en hy wil die res van sy lewe saam met my deurbring.

Ons het ’n driejarige dogtertjie wat mal is oor haar pa. Sy kan ook nie verstaan hoekom haar daddy nie meer saam met ons is nie.

Hy sê daar is niemand anders nie, maar ek weet darem nie so mooi nie. Daar loop ’n klomp stories rond in ons dorp oor hom en ’n ouer vrou.

Ek het hom daaroor uitgevra, maar hy sê die mense praat stront.

Geskei

Tog sê van my vriende hulle het hulle al saam gesien. Hy is ook al gesien dat hy by haar huis uitkom.

Sy is ’n groot vrou en haar man het haar geskei omdat sy gejol het.

En nou klink dit asof sy my kind se pa ingetrek het.

Antie, die vrou het geld en elke keer wanneer die mense haar in die dorp sien, ry sy ’n ander kar.

Ek is so sad oor wat met my en my outjie gebeur het.

Ek kan nie oor hom kom nie en huil myself elke nag aan die slaap.

Ek is baie lief vir hom en kan nie sonder hom lewe nie.

Hy is my alles en almal het gesê daar lê ’n wonderlike toekoms voor vir ons.

Hoe kom ek deur al dié pyn? Ek wil soggens skaars opstaan vir werk en ek het my eetlus verloor. Hartseer Meisie

Ai, liefie, Antie is verskriklik jammer om van jou pyn te hoor.

Maar weet jy wat? Dis nie die einde van die wêreld nie.

Maak nie saak hóé seergemaak jy op die oomblik voel nie, jy het nog baie waarvoor jy kan leef – soos jou dogtertjie, byvoorbeeld.

Nes jy tans con­fused is oor wat nou eintlik skeefgeloop het, so sit jou kind ook met baie vrae.

Dis nou belangriker as ooit dat sy weet jý sal altyd daar wees vir haar en haar nie ook in die steek laat nie.

Gun jouself tyd om oor dié terugslag te kom. Tyd sal jou pyn en soeke na antwoorde op jou vrae uiteindelik laat verdof.

Jou eks dink natuurlik hy het met sy gat in die botter geval met die ouer vrou se geld.

Wat hy nie besef nie, is dat hy ook maar net nog ’n toy boy vir haar is. En dis ook maar net totdat sy verveeld raak en aanbeweeg.

Sy spyt sal wel kom, moenie worry nie.

Jy hoef egter nie te sit en wag en hoop dat hy terugkruip na jou nie.

Hy het sy bed opgemaak, maak nie saak hoe oud dié bed is nie.

Geluk sal wel eendag weer vir jou knipoog.

Jy durf nie toelaat dat die lewe vir jou tot ’n stilstand kom oor ’n man nie.

Vee die trane af, lig jou ken en kyk die wêreld vol in die gesig, want jy het niks verkeerds gedoen nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters