2 maande gelede
My getroude vriendin is agter my man
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK LEES Antie se raad gereeld en nou soek ek self daarvan, want ek is baie moedeloos.

Antie, ’n vriendin in ons straat is met ’n lieflike man getroud, maar sy is agter my man aan.

Ek het lankal ’n gevoel gekry dat sy hom smaak.

Sy trek mooi aan vir hom en flirt met hom. En vir my lyk dit asof hy dit weet.

Wanneer hulle in my teenwoordigheid is, weet hulle nie hoe om dit te hanteer nie.

Wanneer ek my man vra of hy gevoelens het vir haar, sê hy nee, maar as hy ’n naam moet noem, noem hy hare.

Wanneer my man van die werk af kom, dan is sy die hele tyd op en af sodat hy haar moet sien.

Antie, sy is ’n probleem vir my, maar ek kan haar nie vra of sy agter my man aan is nie, want ek hoor al wat sy sal sê: “Is jy mal? Ek is dan getroud.”

Al my vriende en familielede let dit nou op. Ek het drie groot kinders en hulle ly ook onder dié situasie.

Antie moet my asseblief goeie raad gee, want ek voel ek moet eerder skei. Anoniem van die Wes-Kaap

Is sy regtig jou vriendin as sy so by jou man aanlê?

Ek dink jou vermoedens is reg, maar dis seker darem nie nodig om te skei nie.

Wat Antie kan aflei, is dat niks nog gebeur het wat jou tot so ’n drastiese stap hoef te dryf nie.

Nee, begin eers deur alle kontak met dié “vriendin” te verbreek.

Sê haar reguit jy soek haar nie meer naby jou familie nie en sê ook vir jou man dat julle nie meer vriende met haar is nie.

Dit gaan ’n moeilike stap wees, maar jy móét dit doen as jy jou huwelik wil red.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters