7 dae gelede
My dronk eks kom net vir ’n stukkie spyker
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET ’n probleem met my meisie se familie.

Hulle wil nie hê sy moet by my bly nie.

Hulle het altyd die een of ander verskoning om haar by die huis te kry. Daar word selfs gesê haar pa is siek, net om haar by die huis te kry. – F van F, WhatsApp

Mense sal nie sommer siektes as verskoning gebruik om ’n punt te bewys nie.

Dalk is haar mense nie happy met hierdie saamblyery nie?

Dalk is hulle nie gelukkig met die manier hoe jy haar treat nie?

’n Saak het altyd meer as een kant en dit kan selfs wees dat daar dinge is wat jy gerieflikheidshalwe nie noem nie ...

As dit jou pla, keer niks jou om die lug met hulle te suiwer nie. As daar probleme is, kan dit opgelos word deur in gesprek met hierdie mense te tree.

Dit baat nie jy kla, maar doen niks van jou kant af om die vibes tussen julle te suiwer nie.

Liewe Antie Mona

EK EN my eks is nie meer saam nie, maar hy wil my nie uitlos nie.

Hy kom net na my toe wanneer hy dronk is en seks soek.

As ek hom weer sien as hy nugter is, dan sê hy ek moet hom uitlos, want ek weet mos ons is nie meer saam nie.

Antie, ek weet nie wat om te doen nie, want ek is baie lief vir hom. Ek wil hom graag help, maar ek sien hy wil nie regkom nie. Hartseer Eks, WhatsApp

Liefie, hoe lyk dit dan jy hou daarvan dat hierdie jong jou so vir ’n fool vat? Jy wéét dan hy kom slaap jou net uit.

Hy wil niks met jou te doen hê as hy nugter is nie, maar as hy gesuip is, dan weet hy waar jy bly.

Dan slaap jy met hom, net om weer in jou gesig gevat te word as hy nugter is.

Jy kan hom nie help nie. ’n Mens kan nie iemand help wat nie gehelp wil wees nie.

Dis buitendien nie jou job om iemand te help as hy jou net misbruik nie.

Want dis wat hierdie jong doen: Hy misbruik jou.

Hy weet jy het feelings vir hom en gebruik dit elke keer om seks by jou te kry.

Moenie laat hy jou net uit-seks nie. Raak ’n bietjie suinig met jou feelings en lyf.

Wat tussen julle was, is verby en dit is tyd vir jou om aan te beweeg. Jy kan egter vergeet van aanbeweeg en iemand vind wat jou opreg sal liefhê en waardeer as jy nog elke liewe keer val vir die kastige verliefde- liegstories van ’n dronk jong.

Hou op dink met jou hart, want dit laat jou elke keer in die bed spring met die man.

Gebruik ’n slag jou verstand en besef dat jy meer verdien as ’n jong wat jou net wil uitlê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters