9 dae gelede
Man sê hy is spyt dat hy met my getrou het
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS 50 en my man is 60. Ons is 10 jaar getroud en is albei baie ongelukkig.

Ons het geen kinders nie. Hy blameer my vir alles wat in sy lewe skeefloop.

As ons stry, skel hy kliphard sodat almal hoor. Baie, baie lelik. Dis asof hy my langs die straat opgetel het.

Hy het alleen gewerk. Hy sê hy haat my en is spyt hy het met my getrou.

Die huwelik gaan net oor hom en wat hy wil hê.

Ek was lief vir hom, maar sy woorde het gesorg dat ek niks meer vir hom voel nie.

Hy sê ook ek sal hom nooit los nie, want ek is niks sonder hom nie.

Ek het dit baiekeer oorweeg om hom te skei. Dan sê hy ek sal niks kry as ek skei nie, want ek het met niks by hom aangekom nie.

Ons is binne gemeenskap van goedere getroud.

Hy beskinder my en maak my sleg by ander mense. Ons bly in ons eie huis wat ons gekoop het. Ek kan nie langer saam met hom onder een dak bly nie, maar het geen ander heenkome nie.

Gelukkig het ek nou ’n werk gekry. Kan ek uittrek, al is ons nog nie geskei nie? Ongelukkige Vrou, Whats­App

As julle binne gemeenskap van goedere getroud is, kan hy maar vermaak soos hy wil.

Jy is geregtig op jou cut van die pie wat julle saam as ’n getroude couple opgebou het.

Jy is niks sonder hom nie? Sulke vermetelheid!

Hierdie ding is daarop uit om jou sielkundig af te breek en jou te laat glo jy is niks werd nie. Moet hom nie daardie power gee nie.

Gelukkig het jy nou ’n werk. Jy is nie op hierdie aarde om hom vet te voer en sy gat skoon te hou nie.

Kry vir jou ’n goeie lawyer en kry daai egskeidingsbal aan die rol. Dan vat jy dit wat jou legally toekom. En dan kan hy maar vir hom ’n ander servant gaan soek.

G’n vrou is lus vir werf-etters soos dié nie. So, hy gaan lank soek.

Maar jy gaan ontslae wees van ’n man wat verdien om alleen oud te word.

En nee, jy hoef nie te wag tot die afhandeling van die egskeiding om uit te trek nie.

Die huis is anyway julle gesamentlike bate en sal in die egskeiding op die verdeling­skinkbord geplaas word.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters