9 maande gelede
Man kry jolmeisie nie uit sy gedagtes
 ~ 

Liewe Antie Mona

Tans het ek ’n buite-egtelike iets aan met ’n meisie wat tien jaar jonger as ek is.

My vrou het intussen uitgevind en ek wil nou hierdie meisie los, want ek wil saam met my vrou wees. Maar ek kan nie.

Hoe gemaak?

My vrou het my ’n tweede kans gegee.

Hoe bly ek weg van die jolmeisie en maak reg met my vrou?

Ek soek my lewe terug met my vrou en kids, maar hoe vergeet ek die jolmeisie? – Anoniem

Jy moet dit nie net verstaan nie, maar ook in jou kop kry dat nie alle mans wat dinge soos jy aangevang het, ’n tweede kans kry nie.

Dus moet jy dit waardeer dat jou vrou bereid was om jou vir ál die slegte dinge wat jy aangevang het, te vergewe.

Maar dit klink vir Antie asof dit verskriklik moeilik vir jou is om van jou joller afskeid te neem.

En dis waar jou probleme gaan vererger.

Jy is mos groot en behoort beheer oor jou aksies te hê.

Jy weet wat die gevolge gaan wees. As jy jouself dus nie kan beheer nie, gáán jou vrou jou los.

Is dit die moeite werd om jou familie prys te gee vir ’n los stukkie?

Wil jy regtig sê jy het nog nie jou les geleer nie?

Eintlik behoort jy op jou knieë te val en dankie te sê oor die tweede kans wat jy gekry het.

Wie is belangriker in jou lewe – jou vrou en kinders of jou skelmpie?

Dit is tyd dat jy ’n man vir jou vrou en ’n pa vir jou kinders is.

As jy nie kan nie, moet jy hulle die guns doen en jouself uit die prentjie vat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters