13 dae gelede
Luisgat ‘lawyer’ teer net op my en my geld
Auntie Mona
Auntie Mona  ~ ~

Liewe Antie Mona

EK WAS nege maande in ’n verhouding met ’n man wat my net met mooi woorde gecharm het.

Toe ons ontmoet het, het hy hom voorgedoen as ’n lawyer wat van sy huis af werk.

Antie, die man het nooit geld gehad nie, maar altyd gesê hy wag op companies wat hy verteenwoordig het om hom te betaal.

En so het dit ’n hele paar maande aangegaan. Die man het later meer by my gebly as by sy eie plek.

Dan het hy expect dat ek vir hom brekfis in die bed moes bring. Al hierdie dinge het ek gedoen, want ek was lief vir hom.

Toe vind ek uit hy is ’n liegbek wat ander vroue in my huis entertain wanneer ek in die werk is.

As ek nie een oggend huis toe gekom het oor ek nie lekker by die werk gevoel het nie, was ek seker nou nog in die donker oor sy dinge.

Weke nadat ek hom uitgesmyt het, het hy nog probeer om my terug te wen.

Dit was baie swaar vir my, maar ek het uitgehou en die ding het genadiglik opgehou om my te verpes.

Antie, ek het gesweer ek is klaar met sulke luisgat-mans.

Maar ’n mens is ook mos eensaam en ek’t ’n paar maande gelede iemand op Facebook ontmoet.

Ons het eers net op Messenger gechat en toe begin hy skimp ons moet mekaar ontmoet. Ek het ingestem en ons het ’n afspraak by ’n plek gemaak wat ver van my huis af is.

Sal die man dan nie toe uitsteek met ’n private lift en my vra om die driver te betaal nie!

Hy het kamma sy wallet by die huis vergeet.

Ek het net daar opgevlieg en geloop.

Ek weet nie meer nie. Is liefde – opregte liefde – dan nou te veel gevra?

Is mans van vandag dan net daarop uit om vroue in te doen?

Ek wil glo dat daar nog goeie mans daar buite is, maar hierdie experiences van my laat my wonder of ek ooit ware geluk sal vind. – C van C, WhatsApp

Ai, die kansvatters van die lewe darem.

Daar is mans daar buite wie se hele bestaan een groot klug is.

Maar in dieselfde asem moet Antie darem sê dat daar nog goeie mans ook daar buite is.

Mans wat vroue respekteer, op die hande dra en bedoel wat hulle sê.

Soms kan dit egter voel of al hierdie mans al opgeraap is.

Moenie moed verloor nie, want iewers daar buite loop daar ’n deksel rond vir jou pot.

Iemand wat deksels lief vir jou sal wees en jou nooit in die steek sal laat nie.

Moenie oorhaastig wees nie en moenie sommerso vriendelik wees met ieder jong op social media wat met jou begin chat nie.

Check eers mooi uit hoeveel katte sit in daai boom!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters