Verlede maand
Luis suig vrou droog
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK CHAT nou al maande aan en af met ’n outjie wat my baie goed laat voel.

Ons bly in twee verskillende dorpe, maar darem nie te ver van mekaar af nie.

Daar is nou al baie planne gemaak om face to face te ontmoet, maar daar val pal iets voor.

Ek het ’n kind, maar ek en haar pa is lankal nie meer saam nie.

Hy het twee kinders by sy eks­meisie en sê ook hulle het nie meer ’n ding aan nie.

Antie, daar is ’n paar goed wat my pla. Hy kan byvoorbeeld net tot ’n sekere tyd in die aand chat, dan moet hy gaan slaap.

Hy is dan moeg, maar dis nie asof hy die volgende dag moet gaan werk nie, want met die lockdown is sy werk nou toe.

Hy en sy eksmeisie het voorheen saamgebly, maar hy sê nou hy bly op sy eie.

As ek hom saans probeer Whats­App video call, beantwoord hy nie my call nie.

Hy maak elke keer ’n verskoning van hy kan nie nou nie en dat daar kerkmense by hom is.

Kan dit wees dat kerkmense elke aand by hom kan wees?

Verder bly hy geld leen by my wat hy nooit terug­betaal nie.

Ek het aan die begin nie gemind nie, want ek hou van hom en dit lyk asof daar iets moois tussen ons kan kom.

Maar sodra ek die geld aan hom oorbetaal het, is hy vir ’n paar dae doodstil.

Hy sal later van hom laat hoor met ’n storie, soos dat sy phone weer probleme gee.

Weens die lockdown kan ek nie nou ’n draai in sy dorp gaan maak nie, want ek wil met my eie oë sien of hy vir my lieg.

Ek kry net die gevoel dat hy besig is om my aan ’n lyntjie te hou. – R van D, WhatsApp

En hierdie is ’n gevoel van jou wat jy moet trust, liefie.

Moenie nog jou geld en petrol ná die lockdown mors nie.

Jy kan mos klaar sien dat dié ou daarop uit is om jou uit te vreet en te belieg.

Dit sal Antie glad nie verbaas as hy nog al die pad saam met sy sogenaamde eks en hul kinders woon nie.

Daarvan getuig die feit dat hy nie jou video-oproepe wil of kan beantwoord nie, want dan gaan jy sien hoe beweeg sy meisie en kinders rond in die background.

Nee wat, moenie jou veel langer laat uitbuit nie. ’n Mens kom darem net te swaar aan jou geld.

Jy gee hom in die vervolg nie eens meer ’n onsigbare sent nie. Dit is tyd dat jy kontak met hom verbreek en aanbeweeg met jou lewe.

’n Visit ná die lockdown aan sy dorp is nie nodig nie. Sien hoef nie glo te wees nie.

Dit sal Antie nie verbaas as daar ’n hele paar girls is wat hy só ’n rat voor die oë draai nie.

Iemand wat altyd met die veelste van verskonings kom, het gewoonlik iets wat hulle wegsteek.

Jy verdien baie meer as die leuens wat nou vir jou opgedis word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters