2 maande gelede
In tronk vir moord ná hy sy vrou vang seks
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS F en skryf hierdie brief uit die gevangenis uit.

Ek is 23 jaar oud en oorspronklik van P.

Antie, ek het body fuel-werk in V gedoen en het ’n pragtige vrou gehad wat als vir my gedoen het.

Daar was tye dat ek laat by die huis gekom en gevoel het om tyd saam met haar te spend, dan bly sy net moeg. Of as ek daar kom, dan slaap sy al.

Maar laat ek eers ’n baie lang storie korter kry!

Ek kom die Saterdagaand van die werk af by die huis, dit was so 23:00.

Ek sien die deur op ’n skreef oopstaan. Ek het binnegegaan, maar eers in die kombuis gaan sit.

Daar was net iets wat vir my sê ek moet kamer toe gaan. Toe ek by my kamer kom, sien ek voor my kamerdeur ’n oopgemaakte kondoompakkie.

En ek besef dat ek nie my vrou met sulke goed bevredig nie.

Skaam

Ek maak die deur stadig oop, want ek begin voel vreemd. Ek sien ’n vreemde broek en T-hemp op die vloer, maar toe die deur eers oop is, vind ek ’n man bo-op my vrou.

Antie, ek was nog so jonk getroud om so iets deur te maak. My vrou was so skaam dat sy haar gesig vir my verberg het.

Hulle albei het gegil van lekkerkry, maar toe ek inkom, was dit tjoepstil.

Ek gaan toe by die deur uit regdeur kombuis toe. Ek was eers my gesig en haal my trouring uit en gaan regdeur laai toe en pluk ’n broodmes uit.

Ek gaan terug kamer toe en staan eers voor die deur en besef dat dit nie die moeite werd gaan wees om oor iemand te baklei wat jou nie liefhet nie, want as sy lief was vir my, sou sy nie gedoen het wat sy gedoen het nie.

Ek gaan terug en sit op my bank in ons sitkamer.

Die man met wie my vrou geslaap het, kom uit en ek sien die vrees en die twyfel in die man se oë, maar ek sit nog met die mes in my hand en ek sê vir hom om uit my huis te trap.

Hy hardloop uit by die huis, ek staan op en vat vir my ’n takkie druiwe uit die yskas. My vrou trek nog aan toe ek in die bed gaan lê.

Ek voel vreemd. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Ek steek toe my hande onder die kussing soos ek gewoonlik doen saans voordat ek gaan slaap. Ek vind my vrou se panty en ’n kondoom binne dit toegedraai. Ek gooi dit af, want ek weet sy het die wêreld vir my beteken.

Ek het al die tyd niks gedoen aan haar nie, omdat ek haar so liefhet.

Sy probeer met my praat in die huis, maar ek reageer nie. Ek wou net wegraak en slaap, maar my trots het my krag gegee om nie te huil nie.

Sy kom lê die aand agter my terwyl ek my rug op haar gedraai het, maar in die nag het sy opgestaan om pille en lampolie te drink.

Antie, die volgende dag toe ek opstaan, vind ek haar yskoud langs my. Sy’t toe reeds afgesterf.

Meteens spring ek uit die bed en soek hulp, want ek was deurmekaar.

Ek bel toe die polisie en hulle neem my op as verdagte! Antie, ek het niks gedoen nie, niks! Kyk hoe baie onskuldige mense is vandag in die tronk en ek vir ’n moord wat ek nie gepleeg het nie.

Ek het my werk, my karre en my huis verloor. Selfs my pragtige twee dogtertjies ook, as gevolg van iets wat hulle pappa nie gedoen het nie. F van P, WhatsApp

So, jy sê jy het sonder enige woede langs jou vrou aan die slaap geraak?

Sonder om aan te dring op antwoorde oor hoekom sy dit aan jou gedoen het?

Sonder om gewalg te wees oor die gebruikte kondoom en jou vrou se panty wat onder jou kopkussing gelê het?

Sonder enige emosie slaap jy salig, terwyl jou vrou opstaan en selfmoord pleeg.

Toegegee, daar is baie wat agter tralies beland en dan dalk nie so heeltemal skuldig is nie.

Ons moet egter maar vertroue in die regstelsel hê en Antie wil glo dat as daar ’n moontlikheid van selfmoord is, ’n patoloog dit sou optel.

As jy glo dat jy onskuldig is, kan jy ’n lawyer aanstel om jou onskuld te bewys.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters