Verlede maand
Groot geveg dreig oor huis ná oom sterf
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY OOM het ’n paar jaar gelede aansoek gedoen vir ’n RDP-huis, en om te kwalifiseer, moes hy ’n kind se naam op die aansoekvorm sit.

Sy kinders wou egter niks met hom te doen gehad het nie, en die munisipaliteit het toe vir hom laat weet hy moet die naam van ’n kind met dieselfde van as syne op sy vorm sit.

Hy het toe my ouers gevra vir permissie om my naam op te sit met die belofte dat as hy eendag sterf, hy die huis aan my sal nalaat.

Ek was 12 daardie tyd en ek is nou 21.

Hy het toe al die jare sy huis aan ’n buitelander verhuur, terwyl hy op straat gewoon het.

Laas jaar het hy toe gesterf, en omdat niemand van sy familie vir hom ’n begrafnis wou gee nie (want hy was ’n dronklap), het ek toe maar vir die buitelandse winkeleienaar gevra om vir sy begrafnis te betaal, dan hoef hy nie rent te betaal nie.

Anyway, nou wil my oom se seun (wat tans lewenslange vonnisse uitdien vir moorde) reg slaan oor die huis. Ek het geen blyplek nie. Ek wil graag in my oom se huis gaan bly omdat hy my ál die jare belowe het dat die huis myne sal wees die dag wanneer hy sterf.

Hy het nie ’n testament opgestel nie, maar die seun hou nou vol dat dit sy huis is.

Antie, sê vir my: Hoe is dit moontlik, en is dit nie waar dat as my naam nie opgegee is nie, my oom nooit daardie huis sou kry nie?

Ek is in trane. Ek soek net ’n vaste blyplek vir my en my seuntjie. Desperaat, WhatsApp

Sover Antie verstaan, is jou naam dalk gebruik as afhanklike om jou oom in staat te stel om vir ’n Hop-huis te kwalifiseer, maar jou naam sal nie op die titelakte staan nie.

En as jou oom nie ’n testament opgestel het waarvolgens jy die huis ná sy dood sou erf nie, sal die huis volgens die wet van intestate succession aan ’n oorlewende vrou of kinders gaan.

Dit is hierdie wet wat daardie tronkvoël-kind van die oom nou so sterkgevreet maak daaroor dat dit sy huis is, al was hy nooit daar vir sy pa nie.

Selfs toe die dood intree, wou hulle niks met hul pa te doen gehad het nie, maar daar is nou ’n huis op die spel waaruit hy/hulle kan coin. Die wet gaan niks verstaan dat die huis vir jou beloof is as daar nie ’n wettige testament is wat dit kan beaam nie.

In vandag se tyd kan ’n mens nie afford om net iemand se woord te vat sonder om dit op papier te sit as bewys nie.

En ongelukkig laat dit jou dan in ’n situasie waar jy nie van hierdie huis gebruik kan maak soos wat jy gehoop het nie.

Antie weet dis ’n bitter pil om te sluk, liefie, maar Antie vertrou dat jy op ’n ander manier geholpe gaan raak. Alle sterkte!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters