18 dae gelede
Goeie vriendin ken my net in haar geldnood
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK HET ’n vriendin wat my net ken wanneer sy geld nodig het.

Einde van die maand sien ek haar nie, maar deur die maand val sy my baie lastig.

Sy verdien meer as ek, maar kom nie met haar geld uit nie, want sy dobbel baie.

Sy wil ook nie hê haar man moet weet sy leen geld by my nie, maar my eie man begin al vrae vra oor waarheen my geld gaan.

Ek en T kom al van skooldae af aan en was nog altyd close.

Maar die afgelope vyf jaar is dit nie lekker om vriende met haar te wees nie.

Gewen

Die ergste van alles is dat ek nie nee vir haar kan sê nie en sy weet dit.

Ek kan egter nie meer nie, want dit vat baie lank vir haar om my terug te betaal en dan staan my eie skuld stil.

As sy iets by die casino gewen het, hoor ek vir ’n lang tyd nie van haar nie.

Ek sal altyd net later hoor hulle was weg vir ’n vakansie of langnaweek. – Gatvol vriendin, e-pos

Liewe vrou, hierdie is nie jou vriendin nie. Sy is ’n uitvreter van die eerste water.

Een wat jou net ken wanneer sy in die nood is, maar wanneer dit goed met haar gaan, ken sy jou nie. En dit kom al vyf jaar so aan?

Dit is tyd dat jy leer om nee te sê vir hierdie kamstige vriendin.

Genade, jy het mos ook jou eie responsibilities. Laat sy dit ’n slag so verstaan.

Sy gaan na alle waarskynlikheid dikbek wees en ’n tyd lank nie met jou praat nie.

Maar weet jy wat, vriendskap was nog nooit iets waar een ’n cash register en die ander een die ontvanger van ander mense se inkomste is nie.

Maak ’n slag plak vas en laat jou nee jou nee wees.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters