19 dae gelede
Etter van 'n man wil self na kind kyk
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY KIND was net twee weke oud, toe kom die pa dronk by my aan en besluit dat die kind nou by hom gaan bly.

My ouma het hom probeer keer, maar hy het met haar baklei.

Ek het by hom gepleit om nie my kind seer te maak nie, maar hy is toe weg met die kind, die melk en die kiembies.

Ons het hom by sy huis gaan soek, maar hy was by sy oom se huis waar hy gesuip het, terwyl ’n ander vroumens my kind moes droogmaak.

Nou verwerp hy die kind omdat ek die beskermingsbevel wat ek teen hom het nie wil terugtrek nie.

Hy drink elke naweek bokse goedkoop wyn en dreig dan om my eerder dood te maak, want dan weet hy hoekom hy tronk toe gaan, sê hy. Hy koop nie eens vir die kind iets nie, maar wil spog oor die kind se gladde hare.

Ek sit dag en nag alleen met die verantwoordelikheid van ons baba. Ons kom een van die dae weer by die hof voor en ek is baie gestres oor hierdie hofverskyning, want ’n maand gelede het hy my kom wurg en rondgepluk hier by die huis.

In sy oë is ek die verkeerde een, aangesien ek die interdik teen hom gaan uithaal het. Moedelose Ma, WhatsApp

Hierdie man is mos etter deluxe en glad nie werd om ’n pa genoem te word nie.

Hy steur hom nie eens aan ’n hofbevel nie. Minagtend, oneerbiedig, g’n sin vir responsibility, pofferhandjie-vroueslaner, gemorskos se baas, etter van die jaar ...

Hy is nét so cheap soos die cheap wyn wat hy drink.

Noem ál hierdie dinge by die hof en vra dat daar swaar teen hom opgetree word. Vra die hof om jou en julle kind se belange te beskerm voordat hy julle iets liederliks aandoen. Wil die gereg dan ook eers wakker skrik as hy uiting aan sy dreigemente gegee het?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters