10 dae gelede
Ek’s verlief op ou wat ek nog nie ontmoet het nie
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS verlief op ’n getroude man wat sê hy is net so lief vir my.

Ons het mekaar nog nie ontmoet nie. Is dit moontlik om so verlief te raak op iemand wat jy nog nie eens ontmoet het nie en sulke sterk gevoelens vir hom te kan hê?

Ek het al ’n paar foto’s van hom gesien, maar dit gaan nie oor die uiterlike nie.

Hy is baie goed gemanierd en laat my weer respek kry vir myself.

Ek wil nie tussen hom en sy vrou kom nie. Dis hoekom ek by Antie aanklop vir hulp. AP van A

Vrou, moenie ’n fout maak nie. Dis juis die wolwe in skaapklere wat die mooiste van maniere het.

Feit van die saak is, hy is getroud. Hy flirt met jou en druk al die regte knoppies om jou knieë lam te maak.

Hy is eintlik net agter een ding aan, maar hy speel sy game baie goed en laat dit nie so lyk nie.

Moenie die game van huwelike opbreek saam met hom speel nie. Jy is beter as dit.

En weet jy wat? ’n Mens het nie ’n man nodig om re­spek vir jouself te kweek nie.

As hy oor jou voel soos hy beweer, sou hy al sy vrou vir jou gelos het, maar dit het nie gebeur nie, het dit?

So vriendelik en goed gemanierd soos hy dalk klink, hy is eintlik wreed deur so met jou gevoelens te speel.

Kry jouself uit hierdie onbetaamlike “verhouding” met ’n man wat jy nog nooit eens ontmoet het nie.

Niks goeds skuil in die kommunikasie wat julle tans het nie.

Hy gaan moeite doen om saam met jou te slaap en jou hart te breek en dan net voortgaan in sy “gelukkige” huwelik met sy vrou.

Jy sal agterbly, verdwaas en gebroke, en alleen die stukke van jou hart weer optel. Hierdie tipe “verhoudings” draai altyd so uit.

Moenie jy ook in die strik trap waarin soveel ander vroue al beland het nie.

Liewe Antie Mona

EK IS 31 jaar oud en rook en drink glad nie.

Ek en B, my kind se pa, is nie meer saam nie.

Nou vry hy rond met meisies wat nog op hoërskool is.

My kind verlang dat ons weer saam moet wees, en ek deel daai verlange, maar ek kry ’n afkeer in hom wanneer ek sien waarmee hy besig is.

Die eks met wie ek jare gelede uitgegaan het, wil weer ’n kans by my hê om dinge reg te maak.

Hy praat net van trou, maar sy familie ondersteun hom nie.

Wanneer hulle my sien, praat hulle net van my as hul skoondogter, maar hulle praat nooit van die kind wat ek by hul seun het nie. Hulle wil hê ek moet trou met hul seun, wat net af en toe werk.

Ek en my jare lange vriend het die afgelope maand so af en toe seks gehad.

Nadat ons seks gehad het, treat hy my asof ek nie bestaan nie.

Ek voel sleg, maar ek verstaan nie hoekom ek toelaat dat hy my so misbruik nie.

Dit voel of ek van alles vergeet wanneer ek seks het met hom, maar in die stilte vreet my omstandighede aan my.

Hy het ook beloof om met my te trou, maar hy praat nie meer daaroor nie. Ek vra ook nie meer daarna nie.

Ek is ook lief vir hom, maar ek weet nie of dit genoeg is nie.C van die Oos-Kaap

Liefie, om met iemand seks te hê laat jou nie van jou probleme vergeet nie. Anders was jy mos nou al “probleemvry” ná ál die kere dat jy met nommer 2 seks gehad het.

Jou brief is ’n bietjie deurmekaar, maar Antie lei af jy skryf oor twee mans wat jou lewe so deurmekaar krap.

Nommer 1 verwar hoërskool met ’n hoerskool deur skoolkinders te verlei.

Nommer 2 het jou panty-rek pap gemaak deur jou in die verlede trou te beloof, maar hy praat nie meer daaroor nie en gebruik jou net om sy rug leeg te maak.

In albei situasies word jy misbruik en jy weet dit. Tog laat jy dit toe omdat jy heimlik hoop dat een van hulle twee sy slegte dinge gaan laat staan. Hulle gaan nie.

Wat jy moet doen, is om ’n slag te besef jy en jou kind (Antie kan nie uitfigure of jy meer as een kind het nie) verdien much, much beter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters