8 maande gelede
Ek wil hê my skellende ouers moet liewer skei
 ~ 

Liewe Antie Mona

Ek is ’n 16-jarige seun en my ouers het mekaar verneuk.

Hulle stry heeltyd en die ­manier hoe hulle met mekaar praat ...

Ek wil hê hulle moet uitmekaar gaan (skei), maar is dit reg vir my wat die kind is, om so te voel?

Ek het eendag vir hulle gesê hulle moet eerder skei, want ek wil nie die geskel elke dag aanluister nie.

Maar dit het nie gehelp nie. Hulle blameer nou mekaar.

My pa werk van die huis af en sal nou eers oor drie maande terug wees. Intussen is my ma soos ’n jong meisie.

Ek wil nie kant kies nie. Help tog, Antie. – Anoniem

Liefie, die groot tragedie van egbreuk is wanneer die kinders weens die grootmense se dade moet suffer.

En dit is presies wat nou in jou geval gebeur het.

Jy moet nou na die skellery en beskuldigings luister.

En dit maak natuurlik dinge nie lekker by die huis vir jou nie. Die huis is seker die laaste plek waar jy nou wil wees.

Wanneer sulke situasies opduik, is dit die volwassenes se plig om seker te maak dat die gestry en baklei nie na die kinders oorspoel nie.

Ongelukkig lyk dit asof jou ouers nie jou gevoelens in ag neem nie.

Vir eers wil hulle albei ’n punt aan die ander een bewys ten koste van jou.

Hierdie is ’n delikate situasie. Dis iets wat jou negatief kan beïnvloed, veral wat jou skoolwerk betref.

Is daar nie dalk ’n familielid by wie jy eers kan gaan bly totdat jou ouers dinge uitgesorteer het nie?

Dit is nie fair dat jy in die middel van hierdie hele onaangename gedoente moet wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters