13 dae gelede
Ek is glas vir my mense
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS 20 jaar oud en stel nie belang in outjies nie.

Ek is klaar met skool en het eers ’n gap-jaar gevat om my lewe agtermekaar te kry sodat ek volgende jaar kan begin studeer.

Ek het selfs klaar aansoek gedoen by ’n kollege in ons area, maar dit voel asof my lewe nie regkom nie.

Antie, my familie staan my nie by nie. Hulle is nooit daar vir my wanneer ek hulp nodig het nie.

Verwag

Dit kom nou al van my skooldae af aan dat niemand van my familie eens ouervergaderings bygewoon het nie.

Ek moes altyd by my klasmaats hoor wat van ons verwag is.

Ek en my ma het nie ’n goeie verhouding nie, want sy luister nooit wanneer ek oor belangrike dinge wil praat nie.

Sy is altyd net daar vir haar seun. So, dit voel asof sy my elke dag verstoot, want wanneer ek iets wil sê, is sy te besig om aandag aan my te gee.

Ek is al twee keer amper verkrag deur ’n familielid, maar ek het my ma nie daarvan vertel nie.

Dit was totdat ek een aand net in woede uitgebars het en dit aan haar genoem het.

Maar sy stel steeds nie belang in my dinge nie.

Ek voel ek wil weghardloop of myself doodmaak.

Dit voel vir my asof ek niks het waarvoor ek kan lewe nie.

Ek doen my bes om vir my en my familie ’n beter lewe te gee, maar hulle staan my nie by nie.

Antie, ek mean maar net, elke ouer behoort mos trots te wees op sy of haar kinders.

Maar ek moet elke dag hoor ek wil my die beste hou. En dit omdat ek probeer om ’n beter lewe te skep vir ons.

Ek kan nie by my familie gaan bly nie, want ek vertrou niemand van hulle meer ná die poging tot verkragting nie.

Ek wil net doodgaan. Dit voel asof my lewe niks beteken nie. C

Dit is tragies dat jou familie so uit die water uit wil staan en jou nie wil ondersteun nie.

Maar wanneer jy sukses behaal – en Antie kan sien jy sál – dan gaan hulle die eerstes wees wat by jou sukses-tafel wil kom aansit.

Liefie, jou toekomsplanne is vir jouself en niemand anders nie.

Watter suksesse jy ook al in die lewe gaan bereik, sal te danke wees aan jou eie harde werk, opofferings en vasbyt.

Jou droom om ’n sukses van jou lewe te maak is joune en joune alleen. Jy doen dit nie vir ander mense nie.

En omdat daar nog so baie dinge is wat jy in dié lewe wil bereik, durf jy nie ’n einde aan jou lewe maak nie.

Antie weet dis nie lekker om soos ’n eiland in jou familie te voel nie, maar eendag gaan jy jou eie gesin hê – ’n man, kinders en kleinkinders – wat jou sal lief hê vir die wonder­like mens wat jy is.

What doesn’t kill one, makes one stronger – moet dít nooit vergeet nie.

Byt vas, beur vorentoe, vertrou op God en maak Hom deel van jou toekomsplanne.

Jy sal sien: Dinge gaan vir jou uitwerk. Glo vir Antie, dit sál!

Alle sterkte!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters