4 dae gelede
Ek besef in lockdown ek was stuk gemors
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

DIT is vir my so hartseer om te lees so baie huwelike word opgebreek deur iemand wat net lus raak vir ’n getroude man.

Dis iemand wat reeds aan iemand verbind is. Dis beloftes wat voor God gemaak is.

Bygesê, sommige mense gee net nie om wat hulle aan daai gesin doen nie. Nee, by hulle gaan dit oor lus.

Ek is reg om my man vir Mrs. Lus by sy werk te gee.

Ja, sy het daar die oorhand gekry en hulle het mekaar gegryp.

Maar, Mrs. Lus, hy kruip nou soos ’n klein kindjie. Hy huil en soebat. Hy kan nie eet nie, want hy weet nie wanneer sy skeibrief kom nie. Hy slaap skaars. Hy is ’n wrak.

Nou wil hy die dominee kry om te kom praat, maar hy vergeet wat hy voor God se oë gedoen het.

Dink jy dis vir sy kinders lekker om hom so te sien?

Hy wil my nou op die hande dra, maar dis te laat. Hy wil die winkels leegkoop, maar al wat ek wou gehad het, is eerlikheid, respek en liefde.

Mrs. Lus, jy word nou ’n Groot Fout genoem. Die skade is gedoen.

Toe hy in sy 20’s was en ons mekaar ontmoet het, was hy ’n dwelmverslaafde met niks op sy naam nie. Alkohol en dwelms was sy lewe.

Ons het mekaar ontmoet en dinge het ten goede verander.

Vandag woon hy in ’n spoggerige huis en ry met ’n ghrênd kar. Nou sien hy kans om dit met jou op te mors.

Die hande wat hom help bou het aan sy toekoms, is nie meer goed genoeg nie, want jy is enige tyd van die dag daar wanneer hy lus is.

So, werk-wyfie, jy mag hom maar kry.

Maar nooit sal my kinders jou “Ma” noem nie.

Jammer, Antie, ek moes dit net van my bors af kry. Lekker Vroutjie, WhatsApp

Vrou, moet beslis nie jammer sê nie. Jy het die grootste, grootste reg om jou bors skoon te maak.

Jy het gesê wat jy wou sê – nie net vir hierdie “werk-wyfie” nie; sommer ook vir al die ander “werk-wyfies” daar buite wat dink hulle is die mêrrim wanneer hulle so links voor sit in ’n getroude man se kar.

Jy kan met reg jou kop omhoog hou. Jy is daai lady.

Dis jammer dat jou man vergeet het watter goud hy in jou het en dit eers weer besef het noudat daar ’n groot kans is dat hy jou kan verloor.

Jol is nie ’n eenrigtingstraat nie. It takes two to tango.

Hy en hierdie vrou moes albei geweet het hulle speel met vuur. ’n Vuur brand. Dis sy job, want dis al wat hy ken.

Jou man het jou liefde vir en vertroue in hom doodgebrand. Hy wil dit nou weer lewend blaas deur jou met geskenke te oorlaai.

Hopelik is dit ’n eye-opener dié vir die baie ander wat in soortgelyke situasies sit.

Moenie verhoudings aanknoop, trou, en kinders verwek as jy voor jou siel weet daar binne jou is ’n hoergees wat nie tot rus wil kom nie.

Niemand hou ’n gun teen jou kop nie en niemand gaan dit teen jou hou as jy jouself either’e dood wil jol nie.

Om ander se lewe omver te gooi, gaan eendag terugkom en jou lelik in die gat hap. Speel jy maar met karma.

Vrou, alle sterkte vorentoe. Jy is ’n sterk mens. Niks gaan jou onderkry nie.

Teleurstelling en hartseer sal daar wel wees, maar jy weet ten minste jy was nie die dom een in die verhaal wat met sy vows gespeel het nie. Jy is daai lekker vrou!

Liewe Antie Mona

DIE pandemie het ons wêreld eerlikwaar omvergewerp.

Gelukkig vir my as getroude man het dit my nader aan my vrou gebring.

Antie, ek was in die verlede ’n baie spulse, onbetroubare huweliksmaat.

Ek besef in my stiltetye, in isolasie, hoe ontrou ek was en dat my vrou my nog altyd ondersteun het – ook deur my swakhede.

Ek raai mans aan wat daaraan dink om te cheat om twee keer te dink, want dit laat ’n ernstige merk in jou binneste.

Dis amper asof jy ’n misdaad gepleeg het.

Ek voel skaam oor wat ek als gedoen het.

Nou, veral in hierdie moeilike tye, besef ek dat ’n mens se lewe enige tyd tot ’n einde kan kom.

Ek waardeer my vrou en kinders nou opreg en stry hard teen my vleeslike kant. – Skuldige Man, WhatsApp

Finally lyk dit asof daar iets goeds uit lockdown gekom het: ’n man wat mans genoeg is om in sy skuld te val.

Hartjie, maklik is dit nie om jou eie foute en gebreke te konfronteer nie, maar dit lyk asof lockdown net die regte medisyne was vir jou om oor jou dade te reflect.

Hou nou net aan om jou gesin goed te behandel, want hulle is jou kosbaarste blessings.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters