11 dae gelede
Dogter hartseer oor sy en ma nie ‘bond’ het
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK IS nou 23 jaar oud, maar dit voel nog altyd asof my ma my nie liefhet nie.

Sy het my op die ouderdom van 3 maande by my ouma gelos en Kaap toe gekom.

Sy het nooit kontak met my gehad nie.

Ek het haar drie jaar gelede eers opgespoor, toe ek 20 jaar oud was.

Ek was bly om haar in lewende lywe te sien.

Dit voel vir my asof sy my nog altyd verwyt. Die kêrel wat sy het, is belangriker en kry alle aandag.

Ek is altyd die vark in die verhaal.

Is dit so moeilik vir haar om liefde teenoor my te wys?

Sy sal nie daagliks met my gesels of vra of ek oukei is en of daar fout is nie. Sy kyk my net so aan, dis al.

Al wat ek van haar soek, is moederliefde.

Maar daar’s nie kommunikasie, liefde of vertroue nie. – Hartseer Dogter, WhatsApp

Weet jy, liefie, daar is mense in hierdie wêreld wat eenvoudig net nie ouers moet wees nie.

Veels te dikwels kry ’n mens gevalle van jong vroue wat kind kry, die kind dan by hulle ouers los en stad toe verhuis om hulle lewe voort te sit.

Die uiteinde daarvan is gevalle soos joune waar jy nou met ’n leemte sit wat eenvoudig nie gevul kan word nie. Hoewel bloed julle bind, is julle vreemdelinge, want hierdie vrou het in langer as 20 jaar géén moeite gedoen om ’n verhouding met jou op te bou nie.

En dis moeilik. Veral vir jou.

Jy weet dis jou ma, maar daar is geen connection tussen julle nie.

Daar is geen childhood memories nie, want hierdie vrou is ’n blank space in jou lewe.

Daar is ’n begeerte by jou om ’n verhouding met haar op te bou, maar dit lyk nie asof sy dieselde voel nie.

Dit klink vir Antie asof sy kouer as ’n klip is, want hier het sy dan nou die kans om op te maak vir al die jare wat sy verbrou het. Maar pleks van dit doen, hou sy die distance tussen julle.

Daar is geen waarborg dat julle ooit ’n goeie ma-en-dogter-verhouding sal hê nie, maar julle kan ten minste probeer.

Antie weet nie, maar dalk weet sy ook nie hoe om die situasie te hanteer nie. Maybe voel sy ook awkward omdat sy weet sy is jou ma, maar sy weet nie hoe om soos ’n ma op te tree met jou nie.

Kyk, jy het vir die grootste deel van jou lewe sonder hierdie vrou grootgeword en het nie veel om te verloor as jy al jou kaarte op die tafel gooi nie.

Dis tyd vir ’n openlike, eerlike gesprek met haar.

Laat haar weet hoe jy voel. Laat sy weet dat jy daarna smag om jou ma beter te leer ken en te sien of julle iets van die verlore jare kan inhaal.

Stel voor dat julle iets saam doen. ’n Gereelde ding. Net julle tweetjies.

Dinge soos om saam iets te gaan eet, ’n movie te gaan kyk, te gaan shop, girly gesprekke te hê ... Wie weet, dalk kan julle só ’n spark raakslaan.

Maar daardie vonkie kan slegs moontlik wees as julle albei bereid is om julle deel te doen.

Sterkte, liefie. Antie hoop julle kan ’n brug bou wat julle in staat sal stel om by mekaar uit te kom.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters