2 maande gelede
Die duiwel is los as sy swaers saam kom kuier
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

MY VROU en haar twee broers is al drie dokters.

Ons is in ons laat 30’s en vroeë 40’s. Ons bly in die stad waar hulle praktyke is. My twee swaers is nie getroud nie. Ons kom gereeld bymekaar uit en kuier dan verskriklik lekker.

My skoonouers woon ver. So, dis ’n storie om by hulle te gaan kuier. Ons almal kom net een of twee keer ’n jaar bymekaar.

As ek en my vrou alleen daar gaan kuier, gaan dit goed, maar as ons en haar broers saam daar kuier, dan bars alle hel los.

Hulle verander in tieners en begin baklei die oomblik wat hulle hulle voete in daai huis sit totdat ons ry.

Antie, hulle baklei oor die simpelste dinge van sonop tot sononder. Hulle baklei oor wie se gunsteling-ete skoonma moet maak. Hulle baklei oor watter vleis skoonpa moet braai.

Hulle baklei oor een nie aanbied om vir die ander koffie te maak nie.

Dan fight hulle oor wat ons op die TV gaan kyk, oor een in die stort is wanneer die ander een wil stort, oor een sit waar die ander een wil sit.

Oor die goed waaroor kinders op skool baklei. Dit is mal!

As ons daar kuier, lig hulle ook nie een ’n vinger om te help nie.

My skoonouers staan bont om hulle van oggend tot aand te bedien en agter hulle skoon te maak.

My oudste swaer verwag tot dat sy ouers vir hom brandstofgeld moet gee as hy kom kuier, maar hy bly in ’n moewiese huis, ry ’n duur kar en het al die speelgoed wat ’n suksesvolle ongetroude man kan bekostig.

Hulle verander in mense wat ek nie ken nie, want as ons klomp andersins mekaar sien, is hulle die teenoorgestelde.

Soms ry ons almal saam af en hulle sal al die ure op die pad nie ’n skewe woord vir mekaar sê nie, maar as hulle by daai huis instap, is dit asof hulle gedaanteveranderings deurgaan.

Ek het hulle al berispe oor hulle gedrag. Ek het al vir hulle gesê dat ek wonder wat hulle pasiënte sou sê as hulle dit moet sien.

Ek begin al verskonings uitdink as ek hoor ons almal gaan saam by my skoonouers wees.

Kuiers by my skoonouers kan baie lekker wees, want eintlik is hulle almal dierbare mense.

Ek kan dit nie meer vat nie.

Hoe kry ek drie volwasse, professionele mense om soos volwassenes op te tree? via e-pos

Klink vir my asof die drie se ouerhuis die tienerduiwels in hulle losmaak. As hulle tieners was, was dit nog ’n ander saak. Maar groot, uitgegroeide volwassenes?

Jy noem nie hoe hulle ouers op hierdie tirades reageer nie.

Dit sou nogal interessant wees om te hoor of hulle dit entertain en die vrede probeer bewaar.

Soos wat dit vir Antie klink, moet jy peacemaker speel.

Dalk is hulle so gewoond nasty met mekaar wees as hulle by hulle ouerhuis kom, dat dit die “natuurlikste” way is vir hulle om op te tree.

’n Geval van so gemaak en so gelaat staan?

As dit jou baie pla, stel Antie voort dat jy en vroulief maar op julle eie gaan kuier.

Dan hoef jy jou nie vir jou swaers en hulle bedorwebrokkie-gedagtes te vererg nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters