5 maande gelede
Buurvrou in nood is nou pad-op met skoolgeld
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

NOOIT, ooit het ek gedink ek sou aan Antie skryf nie, maar ek weet nie meer watter kant toe nie.

Antie, die skool is om die draai en ek sit met ’n groot probleem.

Ek was veronderstel om die kinders se skoolklere en goed te koop. Die geld daarvoor was weggesit.

Toe kom iemand wat nie ver van my bly nie met ’n hartseer-storie oor die begrafnis van haar seun.

Antie, ek ken die vrou al lank en ons dien in dieselfde kerk.

Sy het gesê omdat dit Desember is, sukkel die polis-mense om uit te betaal en sy wou nie so lank wag om haar seun te begrawe nie.

Ek het haar jammer gekry en gesê ek sal haar help, maar ek gaan die geld vroeg in die nuwe jaar nodig hê vir my kids se skoolgoed.

Met trane in haar oë het sy toe hand en mond belowe ek sal die geld vroeg kry.

Ek het aan haar die geld geleen en haar seun is toe begrawe.

’n Week daarna sien ek ’n furniture-bakkie laai nuwe meubels by haar huis af.

Ek hoor toe by ’n ander neighbour die polisgeld is uitbetaal. Ek het gedink sy sou die aand by my om kom, maar nee.

Sy is gered, maar haar man vat ’n dop. Hy het altyd cheap wyn gedrink, maar hier voor Krismis sien ek hy drink dan J&B.

Sy het skaars geraak en as ek haar buite gesien het, het sy gemaak asof sy my nie sien nie.

Ek het haar toe ’n WhatsApp gestuur en gesê sy moet asseblief met my regmaak, want ek moet my kinders uitsort.

Kan Antie glo, die vrou het die boodskap gelees, maar nie eens die decency gehad om te reply nie?

Môre open die skool en hier wag ek nog soos kiepie.

Ek wou al by haar huis ’n draai gaan maak, maar haar deure en hekke bly toe. Ek hoor nou sy is O toe en gaan lank daar bly.

Antie, ek weet nie hoe ek die storie aan my kinders gaan verduidelik nie. Ek kan nie glo dat daai vrou so met my maak nie. En dan noem sy haarself ’n kind van die Here. M van C, WhatsApp

Dat daai mens jou nou so ’n dirty trek!

Ja-nee, wanneer mense soos daai verleë is, weet hulle waar jy bly. En dan het hulle mos die sadste storie en huil die langste trane. Dit net om missing in action te wees vir die terugbetaal.

Jy moenie dinge so los nie. Maak nie saak waarheen sy nou gegaan het om weg te kruip nie, doen moeite om haar op te spoor.

Wat sê haar man, wat nou ’n J&B fan is? Hy moet tog weet waar sy haar bevind. Gaan konfronteer hom. Om hulle skrik te maak, stel antie voor dat jy dreig om hulle na die hof vir klein eise te sleep.

Gaan sien ook julle herder by die kerk en hoor wat jou te doen staan. Maak die wêreld warm agter haar sodat sy weet selfs in die kerk weet mense van haar dinge.

Hopelik wurg jy jou geld uit haar – figuurlik en nie letterlik nie.

En Antie hoop jy val nooit, ooit weer vir stories nie, maak nie saak hoe sad die omstandighede is nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters