3 maande gelede
Broer wil strydbyl net nie begrawe
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my broer het kort ná ons pa se dood ’n uitval gehad en praat al jare nie meer nie.

Voor die stryery was ons baie close en ons kinders het oor en weer gekuier. Dis nou al jare dat ons kwaaivriende is. Die kinders het ook nie meer kontak nie.

Ek voel dit is alles so onnodig. Dit was ’n stryery oor hoe ons pa se begrafnisdiens moes verloop.

Woorde is gesê wat kon gebly het. Woorde waaroor ek vandag bitter spyt is. My broer is egter iemand wat nie maklik vergewe en vergeet nie. Hy is ’n trotse mens en selfs al is hy verkeerd, sal hy dit nie sommer erken nie.

Ek het al verskeie kere probeer om die mindere te wees en vrede te maak. Hy wil net niks verstaan nie en maak asof ek nie bestaan nie.

Die ergste van alles is dat ons by dieselfde skool skoolhou en selfs dáár maak hy asof hy my nie raaksien nie.

Ek het al gehoor hoe hy aan kollegas van ons sê hy is sy ouers se enigste kind. Antie, hoe benader ’n mens so ’n situasie, want ek weet regtig nie meer wat om te doen nie? – Moedelose Suster, e-pos

’n Sterfte kan naasbestaandes se bande versterk of mense uitmekaar dryf. Dit behoort glad nie so te wees nie, maar dit gebeur tog.

Baiekeer vergeet mense dat ’n funeral die afskeid en celebration van ’n lewe is. Nie ’n show waar jy noudat die mens nie meer daar is nie, wil afshow wat hy of sy vir jou beteken het nie.

Jy besef dat julle meningsverskille heel onnodig en selfs onvanpas was en jy is bereid om die strydbyl te begrawe. Maar daai broer van jou klink asof hy daarvan hou om ou koeie in slote op te gaar.

Trots is ’n mooi eienskap, maar ’n mens behoort in staat te wees om dit in jou sak te steek as dit sommer plein hoogmoed raak.

Jy het probeer. Wat meer kan jy immers doen? Hom dwing om sy kinderagtigheid te laat staan?

Ongelukkig is dit julle kinders wat die meeste suffer en in plaas van om ’n domastrante esel na die water te lei, sou Antie voorstel jy probeer ’n manier vind om die bond tussen julle kinders te herstel. Hulle kan mos nie die victims wil wees van hulle ouers se different opinies oor ’n begrafnis nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters