6 dae gelede
Baby daddy slaap net by my wanneer hy dronk is
Antie Mona
Antie Mona  ~ 

Liewe Antie Mona

EK EN my vriend kom nou al jare aan.

Hy en sy girlfriend bly om die draai van my af. Hulle het twee kinders.

Iets groots het tussen ons gebeur. Ons het elke dag gechat en hy het my later van sy werk af gebel.

Toe vra hy my om in ’n hotel by hom te slaap.

Ons het gegaan. Sy girlfriend het agterna uitgevind, want sy het die SMS op sy phone gesien.

Hulle is nog saam. Ek het toe swanger geraak. Ek het vir ál die mense gesê dit is sy kind.

Die kind lyk ook nes hy, maar hy wil nie met my praat nie.

Hy kom net na my toe wanneer hy dronk is. Hy slaap dan by my, maar dan gaan hy terug na sy girlfriend toe.

Wat moet ek maak, Antie? – M van B, WhatsApp

Meisa, sal jy jou nou so laat vermaak met ’n ander meisie se tr*l.

Askies tog dat Antie nou so lelik praat, maar meisa, hoekom laat jy jou in vandag se dae so vir ’n pop vat?

Jy weet hierdie ou kom seks jou net uit, maar jy laat toe dat hy jou so misbruik.

Jy het mos in die eerste plek geweet hierdie man bly saam met sy meisie en kinders, maar jy gaan slaap toe in ’n hotelkamer by hom.

Was jy dan so hotel-verskrik dat jy dan nog boonop sonder enige protect­ion met dié man gelê het?

En nou ken hy net jou naam wanneer hy gesuip is en ietsie soek.

Wanneer hy klaar is, gaan hy net cool terug na sy gesin.

Sorg hy darem vir sy kind?

Praat julle oor wat die baby nodig het, siende dat hy net met jou praat wanneer hy dronk is?

Of word daar niks tussen julle gepraat behalwe vir die seksery nie?

As jy nou nog nie besef dat hierdie man nie sy meisie en kinders vir jou gaan los nie, sal dit jou seker nooit byval nie.

Pasop dat hierdie man nie in sy dronkenskap nog ’n kind by jou maak en dan net weer om die draai verdwyn nie.

Liewe Antie Mona

EK IS 25 jaar oud en swanger met JP se kind.

Ek het hom ontmoet toe hy na sy antie se begrafnis gekom het.

Ek werk nie en ek weet nie waar JP op die oomblik is nie.

Nadat ek hom gesê het dat ek swanger is, het ek nie weer van hom gehoor nie. Die man het net weggeraak.

Ek soek hom, maar ek kry hom nêrens.

Antie, ek het nie ’n aborsie oorweeg nie, want ek wil nie die kind doodmaak nie.

Ek soek werk en sal dit waardeer as mense Antie kontak as hulle werk het vir my.

Ek beoog om hierdie week vir my ’n werk te soek en dan maar self vir my baba te sorg.

My familie het aangebied om my te help, maar ek wil nie nog op hul nek lê nie. N, WhatsApp

Soms is Antie se vingers nie so stram van die “arteritus” nie en dan chat ek met van die mense wat vir my briewe stuur.

Ja, Antie ken darem ook van chat – maar net so nou en dan.

En uit hierdie gechat met jou het Antie besef dat jy g’n sout of water van dié mansmens af weet nie. Al wat jy weet, is hy’t die begrafnis van sy antie bygewoon wat naby jou gebly het. Dis hoe julle twee mekaar ontmoet het.

Toe hy hoor hy gaan daddy raak, toe verdwyn hierdie man soos wat mis nie eens voor die son kan disappear nie.

Liefie, niemand is so ’n goeie magician dat hy net sonder spoor kan wegraak nie.

Hierdie man lê laag, want hy wil nie die responsibility van pa-wees op hom vat nie.

Die familie van daai antie van hom wie se “funeral” hy bygewoon het, behoort te weet wat sy where­abouts is. Dit kan wees dat hulle zip kap hieroor, want hulle probeer saam met hom sy spore doodvee.

So, doen maar heel diskreet navraag en probeer uitvind waar hierdie jong bly.

Jy moet ongelukkig nie verbaas wees as hy ’n girlfriend het of selfs getroud is nie.

Hy het nes jy lekker gekry, maak nie saak watter strangers julle eintlik vir mekaar was nie.

Kom ons hoop iemand laat weet ook van ’n werkie vir jou in hierdie swaar tye van die lockdown.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters