
DIE voormalige wêreldbokskampioen Hekkie Budler se loopbaan bereik Saterdagaand ’n kruispad in Mexikostad.
Hy boks dan teen die gevaarlike Edwin Soto in ’n uitdungeveg om die WBC se ligvlieggewig-titel.
’n Oorwinning sal weer die wêrelddeur vir Budler laat oopswaai, maar ’n nederlaag kan ’n verdoemende uitwerking op sy loopbaan hê.
Om Soto in sy eie agterplaas te gaan pak is soos om Mount Everest uit te klim.
Beoordelaars
Mexiko se eenogige toeskouers gaan die Palenque Fex Arena vol pak om Budler se lewe hel te maak.
Boonop sal hy geen gunsies van die beoordelaars kan verwag nie.
Budler het al talle kere oorsee geboks en weet dus presies hóé erg die druk op hom gaan wees.
- Die geveg word Sondag 04:45 (SA tyd) op SS Variety uitgesaai.