Chenique Sas is pure klas

akkreditasie
MEnTOR: Chenique Sas en haar coach, Norman Ontong.
MEnTOR: Chenique Sas en haar coach, Norman Ontong.

CHENIQUE Sas het in die naweek met ’n merkwaardige vertoning op die atletiekbaan vorendag gekom.

Al is die 17-jarige plaasmeisie van Overhex buite Worcester nog ’n junior, het sy die naweek daarin geslaag om ’n goue medalje op ASA se nasionale byeenkoms vir seniors in die 3 000 m-hindernis te wen.

Dié matrikulant aan die HTS Drostdy in Worcester wat die Boland verteenwoordig het, het ongelooflike vasbeslotenheid getoon om al haar ouer teenstanders in die uiters moeilike wedloop in 10 minute 43.72 sekondes af te stof.

Draagbaar

Sas was in die laaste 100 m in ’n hewige stryd met Lizandre Mulder (10:44.14) van die Vrystaat gewikkel. Nog ’n Vrystater, Casey Bosman (10:57.89), moes met die bronsmedalje tevrede wees.

Dit was duidelik dat Sas alles gegee het, want toe sy oor die eindstreep kom, was sy so uitgeput dat sy met ’n draagbaar weggedra is.

Chenique vertel: “Ja, ek het alles gegee en was baie moeg aan die einde van die wedloop. Die dokter het agterna vir my gesê dat ek te min geëet het en my energievlakke was te laag.

“Ek het die wedloop egter met ’n baie positiewe mindset ingegaan, want dit was nie die eerste keer dat ek teen ouer meisies te staan gekom het nie.

“Ek het net ingegaan en vir myself gesê ek kan vandag die race wen.”

Chenique sê sy put baie selfvertroue uit die feit dat sy nog ’n junior is wat al die atlete op ’n nasionale senior-byeenkoms kon klop en as die SA kampioen gekroon word

“Ek was voor die wedloop baie senuweeagtig, maar het geweet ek staan ’n kans. Ek is net bly ek het die geleentheid op die dag met albei hande aangegryp.

Ongelooflik

MEnTOR: Chenique Sas en haar coach, Norman Ontong.

“Ek is ’n plaasmeisie wat atletiek al van my laerskooldae by Overhex Primêr af doen. Daar het ek aan die 800 m en die 1 200 m deelgeneem.

“Toe ek ouer raak, het ek aan die 1 500 m begin deelneem. Ek het eers op hoërskool die steeplechase begin doen.”

Toe Sas Maandag by die skool opdaag, was almal uiteraard in hulle noppies met haar ongelooflike prestasie.

“Ja, almal het my gelukgewens. Hulle sê hulle het gehuil van blydskap toe ek die wedloop wen.

“Almal het my gevra waarom ek nie by die huis gebly het nie, want ek het Maandag nog moeg gelyk.

“Alles voel nog vir my onwerklik. Ek kan steeds nie glo wat ek vermag het nie.

“Elke liewe dag kyk ek die video van die wedloop oor en oor. Dis inderdaad ’n groot prestasie en ek is baie trots op myself.”

Volgens Sas het sy die kwalifiseringsvereistes vir die Afrika-byeenkoms net-net misgeloop.

Haar volgende doelwit is om die kwalifiseringstyd te oortref.

“My mikpunt nou is definitief om te werk aan daai ses sekondes. Ek gaan nou nog net harder oefen.

“My coach, Norman Ontong, het vir my gesê daar is ’n byeenkoms in Durban waar ek dit nog kan doen.

“Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit sal beslis ’n groot ding vir my en my ouers wees as ek Suid-Afrika op so ’n jong ouderdom kan verteenwoordig.”

Chenique bly saam met haar ma, Ann-Maree Sas (42), en haar pa, Shaun Willemse (42), op die plaas waar altwee algemene werkers is. Sy wil graag in haar heldin, die SA Olimpiese ster Caster Semenya, se voetspore volg deur ’n loopbaan uit atletiek te maak.

Sy beoog ook om dan volgende jaar onderwys te gaan studeer.

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
40% - 40 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
20% - 20 stemme
Eskom se push
32% - 32 stemme
Gee my krag, elke dag
6% - 6 stemme
Wat is load-shedding?
1% - 1 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees