
REAL Madrid het ’n paar lesse geleer uit laas week se eerste been van die Champions League se halfeindstyd teen Manchester City.
Een daarvan is om nie Pep Guardiola (manager) se Cityzens toe te laat om sake vanaf die staanspoor te dikteer nie.
Daarom het Carlo Ancelotti, manager van Real Madrid, aan fans belowe dat daar in vandag se tweede been op all out attack gefokus sal word.
Real geniet dié keer tuisveldvoordeel en het geen ander keuse as om aan te val nie. Ancelotti-hulle loop met 3-4 agter en moet die tweede been wen om die eindstryd te haal.
Sy span het in Manchester goed gevaar om net met die een doel te verloor – veral toe dit gelyk het asof City dié Spaanse klub sou wegblaas.
Ancelotti het tydens gister se perskonferensie voor vandag se groot game gesê: “As ons gaan terugstaan en verdedig met tien manne voor die boks, gaan City 99 kanse kry. Soms moet mens risiko’s vat, want ons het baie kwaliteit voor.
“Dit gaan ’n clash van twee verskillende spanne wees – twee spanne met verskillende kwaliteit – kollektief én individueel. Ons het egter tuisveldvoordeel en soos altyd sal ons aggressief wees.”
Een ding waarop Real vandag kan staatmaak is die feit dat hy met die kompetisie se voorste doelevraat, Karim Benzema, spog.
Dié Fransman het reeds 14 doele in dié seisoen se kompetisie aangeteken.
Real sal egter ook City se gevaarlike spelskepper Kevin de Bruyne in toom moet kan hou.
Vandag se halfeindstryd skop 21:00 op SuperSport Premier League (203) af.