SY MOVE na Bayern Munich kom op die regte tyd.
Só sê die Liverpool-ster Sadio Mané voor sy amptelike bekendstelling as ’n speler in die Bundesliga.
Die 30-jarige striker is vir £40 miljoen (sowat R785 miljoen) deur Bayern van Liverpool gekoop.
Mané het nog ’n jaar oor gehad op sy kontrak by Liverpool, maar sê toe hy hoor Bayern stel in hom belang, het hy nie twee keer gedink oor ’n move weg van die Engelse Premierliga nie.
Dié Senegalees se mediese ondersoek is gister gedoen. Hy het daarna gesê: “My lewe was nog altyd ’n challenge. Toe my adviseur my die eerste keer van Bayern inlig, was ek vuur en vlam.
Voorlê
“Ek kon dadelik myself daar sien speel. Vir my is dit die regte klub op die regte tyd. Dit is een van die grootste klubs in die wêreld wat altyd veg om die grootste titels.
“Ek het geweet die saak is reg toe Bayern sy planne aan my voorlê. Ek het myself in Bayern se plan gesien, meer as in enige ander.”
In sy tyd as speler by Liverpool het Mané in 269 wedstryde gespeel en 120 doele in alle kompetisies aangeteken.
Hy het in 2018-’19 die Champions League met Liverpool gewen en in 2019-’20 het hy die Engelse Premierliga gewen.
Mané sal Bayern se derde signing gedurende dié transfer window word.
Ajax Amsterdam se Ryan Gravenberch en Noussair Mazrouai speel ook volgende seisoen vir dié Bundesliga-kampioen.