
DIE planne van Ceres se rugbyspan om uit die relegation zone te beweeg, het ’n terugslag beleef toe hy net-net met 14-15 teen Hillcrest vasgeval het.
Hoewel die span van Kempton Juries (coach) met meer ywer gespeel het, was dit verbroude kanse wat die tuisspan Saterdag in die Wit-Sentraal Groot Uitdaagbeker-wedstryd van die Boland op Victoria Park gekortwiek het.
Curnail Krotz se twee strafskoppe het Ceres met die rustyd met 6-5 laat voorloop.
Nashwin Minnaar het ook vir ’n try oorgegaan terwyl Krotz met nog ’n penalty in die tweede helfte in die kol was.
Ceres het onlangs ook die ervare Mannetjies du Plessis as tegniese adviseur nader getrek om die span se tweede ronde rigting te gee.
Die span bly egter steeds onderaan die punteleer geanker saam met Tulbagh.
Duran Bastiaan, Mitchell Jacobs en Curtley Swanepoel het elk ’n drie vir Hillcrest gedruk.
Intussen het Roses United sy diepte aan talent gewys deur Tulbagh met 86-7 af te ransel.
Tulbagh bly steeds onderaan die punteleer ná 11 wedstryde.
In die Breë-Langeberg het McGregor gewys dat hy as nuweling vir niemand hoef terug te staan nie.
Potensiaal
McGregor het vir ’n groot opskudding gesorg deur Worcester met 24-20 te klop.
Hoewel die oorwinning nie veel aan McGregor se posisie onderaan die punteleer verander nie, staan dit steeds as bewys dat die span tot dusver nie tot sy volle potensiaal gespeel het nie.
Dit is dalk net die doepa om hom uit die relegation zone te lig.