BRANCO du Preez is gister ingesluit in die 13-man Springbok-sewesgroep vir World Rugby se volgende twee HSBC Sewesreeks-toernooie in Frankryk en Engeland.
Du Preez is een van vier veranderinge aan die span wat verlede maand in die vyfde plek in Kanada geëindig het.
Neil Powell, die Blitsbok-afrigter, het Du Preez herroep nadat die spelskepper herstel het van ’n skouerbesering wat hy in Januarie by die Wêreldreeks-byeenkoms in Sevilla, Spanje, opgedoen het.
Rehabilitasie
Du Preez, wat in sy 80ste Wêreldreeks-toernooi gaan verskyn, het in 400 wedstryde gespeel en tot dusver 1409 punte aangeteken, net tweede ná Cecil Afrika (1462). Muller du Plessis, wat in Desember 2021 laas gespeel het, sal ná sy suksesvolle rehabilitasie ook terugkeer.
Suid-Afrika het vier van die ses toernooie tot dusver gewen en lei die Wêreldreeks met drie toernooie oor.
Powell het ook besluit om Tiaan Pretorius, wat sy debuut in Dubai in 2021 gemaak het, in die groep in te sluit. Die 21-jarige bied dekking vir die beseerde duo Sakoyisa Makata en Christie Grobbelaar, wat albei beserings in Singapoer en Vancouver opgedoen het. Nomfundo Ndhlovu is ook weer terug.
Die groep is: 1. James Murphy; 2. Ryan Oosthuizen; 3. Impi Visser; 4. Zain Davids; 5. Tiaan Pretorius; 6. JC Pretorius; 7. Branco du Preez; 8. Selvyn Davids; 9. Ronald Brown; 10. Dewald Human; 11. Siviwe Soyizwapi; 12. Muller du Plessis; 13. Mfundo Ndhlovu.