VANJAAR se Woordfees gaan WILD wees.
Jip, dit is die prettige tema vir die 2022-Toyota US-Woordfees.
Die feesdirekteur, Saartjie Botha, sê dié speelse konsep maak haar “bruisend entoesiasties” oor die twee Woordfeeste wat vanjaar gevier gaan word. En dit ná twee jaar van nasionale kommer en frustrasie in en oor die kunstebedryf.
Hierdie fees gaan nie in die vlees geskied nie, maar jy en jou familie kan lekker voor die kassie sit en top-kuns in die gemak én warmte van jou huis geniet.
“Vanjaar se fees is dus kleiner, maar met nuwe vuur en op twee verskillende platforms, landwyd op DStv-kanaal 150 en in Namibië op GOtv-kanaal 27. Dis nou van 15 tot 28 Julie, en dan van 10 tot 16 Oktober in Stellenbosch, ’n dag langer as aanvanklik beplan.”
Sukses
Ná die sukses van Woordfees TV 2021 (die eerste kunstefees in die land wat van 1 tot 10 Oktober op ’n DStv-opwipkanaal aangebied is) het MultiChoice besluit om vanjaar weer ’n kanaal beskikbaar te stel. Dié keer vir ’n volle 14 dae.
In 2021 het slegs intekenaars met ’n Premium- of Compact Plus-pakket toegang gehad. Vanjaar sal intekenaars met ’n Compact- of Family-pakket Woordfees-TV ook kan kyk.
In Namibië sal die kanaal wel aan Compact-intekenaars beskikbaar wees, maar nie ook op die Family-pakket nie. Woordfees-TV sal daarbenewens in Namibië op GOtv uitgesaai word waartoe sowel Max- en Supa-intekenaars toegang sal hê.
Die fees-TV-aanbod sal vanjaar weer die meeste genres dek wat gewoonlik deel van die program is.
Hier is van die teaterstukke waarna jy op die kassie kan kyk: Krismis van Map Jacobs, Toutjies & Ferreira, Babbelagtig, Mis, Ferine & Ferase en Naaimasjien.
Talentvolle
Van die boeke wat bespreek gaan word, is Kirby van der Merwe se Eugene, Brian Fredericks se Hou Jou Oë Oop, Michael Vlismas se Elon Musk Risking It All, Audrey Jantjies se As die Katjiepiering Blom, Alexander Strachan se 1 Recce: Die Nag Behoort aan Ons en Mynhardt Joubert se My Stasiestraatkombuis.
Musiekuitvoerings waarna jy kan luister, is Smeltkroes, deur die talentvolle digters en kunstenaars Frazer Barry, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips.
Karen Zoid en Zorada Temmingh het ook hulle eie musiekuitvoerings. Daar sal ook ’n show wees wat hulde aan wyle Theuns Jordaan bring.