
“ONS is almal in staat om mekaar op een of ander manier te help – ons moet net begin.”
Só glo Alizan Fritz, die organiseerder van die show After Party of Gratitude.
Sy help altyd verskeie kunstenaars en liefdadigheidsorganisasies, want dit is waar haar hartklop is.
“Deur my werk en persoonlike bande met die kunstebedryf, het ek probeer om die musikante en kunstenaars te help om weer geld te verdien, om weer daar uit te kom, want Covid was uiters hard op die vermaaklikheidsbedryf.”
Alizan vertel sy het die show gereël om dankbaarheid aan kunstenaars te toon, asook aan musiekliefhebbers wat deur die moeilike Covid-pandemie steeds die kunste ondersteun het.
“Ons is dankbaar vir die mense wat ons deur die mees skrikwekkende tydperk ondersteun het.
“Covid het die vermaakbedryf tot stilstand gebring, maar met die hulp en ondersteuning van wonderlike mense kon ons steeds vir ons dierbares voorsien,” deel sy.
Sy voeg by dis belangrik om net tot aksie oor te gaan as jy mense wil help.
Talent
Alizan beloof After Party of Gratitude gaan een groot paartie wees wat jy nie gaan wil misloop nie.
“Kaapstad se talent is ongelooflik, ons weet dit vir seker.
“Ons gee terug aan die bedryf deur ’n geleentheid vir groei en vermaak te bied en in dieselfde asem gaan ons dit geniet met wonderlike musiek, wonderlike optredes en die vreugde ervaar.
“Ons almal weet ons verdien dit.”
Die talentvolle kunstenaars wat gaan optree is Robin Pieters, Salome, Chad Chitter, Jeodhouse en Maxine Wild!
Die show vind Vrydag om 20:00 by die Hanover Street Lounge in GrandWest Casino plaas. Jy kan jou plek bespreek deur ’n e-pos te stuur aan tracy@thevaexecu-tive.co.za. Kaartjies kos tussen R150 en R200.